Nuus 09:00
BULLETIN 16 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom se voortgesette samewerking met wetstoepassing lei tot ses arrestasies vir verkrygingsbedrog
# Die DA veroordeel die SAPD oor mislukking om forensiese laboratoriumprobleme op te los ondanks verskeie waarskuwings
# En motorsport: Norris spring voor weg in Australiese Grand Prix voor Piastri en Verstappen
# NATJOINTS se energieveiligheid en sekerheidskomitee maak, in samewerking met Eskom, steeds vordering met die bestryding van korrupsie en diefstal in die elektrisiteitsnutsmaatskappy. Oor die afgelope twee dae is ses mense aangekeer vir hulle betrokkenheid by ‘n bedrieglike verkrygingskema by die Kusile-kragstasie. Die woordvoerder van Eskom Daphne Mokwena sê onder dié wat in hegtenis geneem is, is ‘n voormalige Kusile-verkrygingsamptenaar en ‘n verkrygingsbestuurder:
# Die DA vra vir ‘n volledige forensiese oudit van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se DNS-verwerking en forensiese laboratoriums na die onthulling van ‘n skokkende agterstand van 140-duisend gevalle. Die party blammeer die verouderde toerusting, swak bestuur, en die onbehoorlike hantering van DNS-bewyse vir die vertraging van geregtigheid, veral met geslagsgebaseerde geweldsake. Ian Cameron van die DA waarsku dat die mislukking met DNS-verwerking veroorsaak dat misdadigers wegkom:
Die Vereniging van Staatsamptenare van Suid-Afrika is ook omgekrap oor die berigte oor die agterstand met DNS-monsters. Dit ry die doeltreffendheid van die regstelsel in die wiele omdat baie sake van die rol geskrap kan word weens ‘n gebrek aan bewyse. Claude Naiker van die vereniging sê hulle doen ‘n beroep vir behoorlike hulpbronne vir die SAPD se Forensiese Laboratoriumafdeling:
# Die Trump-administrasie oorweeg die uitreik van beperkings op reise vir die burgers van tientalle lande, volgens Reuters, wat ‘n interne memorandum aanhaal. Die memorandum noem 41 lande wat verdeel word in onderskeie groepe. Die eerste groep van tien lande, wat Afghanistan, Iran, Sirië, Kuba en Noord-Korea insluit, kan volle opskorting van visums verwag. In die tweede groep sal vyf lande – Eritrea, Haïti, Laos, Mianmar en Suid-Soedan – met gedeeltelike opskortings te doen kry wat ‘n uitwerking sal hê op toeriste- en studente-visums.
# En motorsport: Lando Norris van Mclaren en sy spanmaat Oscar Piastri spring vandag voor weg in die eerste Grand Prix van die seisoen in Melbourne, Australië. Norris was in gister se kwalifiserende ronde 0,084-sekondes voor Piastri. Die heersende kampioen Max Verstappen is derde, met George Russell vierde vir Mercedes, voor ‘n indrukwekkende vyfde plek vir Yuki Tsunoda in die Racing Bulls-motor. Lewis Hamilton, wat vir die eerste keer vir Ferrari jaag, was agtste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….