Nuus 08:00
BULLETIN 16 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitgeskopte Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika Ebrahim Rasool is 72 uur gegee om die land te verlaat
# Die SAKP gaan aan die 2026-plaaslike regeringsverkiesing deelneem
# En rugby: Frankryk is die Sesnasieskampioene na ‘n oorwinning oor Skotland
# Suid-Afrika se uitgeskopte ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, is 72 uur gegee om die land te verlaat. Chrispin Phiri, die woordvoerder van die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Ronald Lamola, het aan News24 bevestig dat Pretoria reël om hom “so gou moontlik” terug te hê. Rasool sal dan terugvoer gee oor die saak. Rasool se uitsetting volg op sy opmerkings tydens ‘n webinar gereël deur die dinksentrum, die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection. Hy het onder meer die Amerikaanse president Donald Trump se administrasie beskuldig van rassisme en oppermagtigheid.
In Suid-Afrika vra die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Supra Mahumapelo, president Cyril Ramaphosa en minister Ronald Lamola om dringend, in die belang van Suid-Afrika, Rasool se uitsetting te hanteer. Die VSA se minister van Buitelandse Sake Marco Rubio het op sosiale media Rasool tot persona non grata verklaar. Mahumapelo sê hulle is bemoedig deur Ramaphosa en Lamola se gebruik van diplomatieke kanale in die voorval, eerder as mediaplatforms.
# Die SAKP sê hy het ‘n aansoek ingedien by die Onafhanklike Verkiesingskommissie om as ‘n onafhanklike, geregistreerde politieke party te staan. Die woordvoerder Alex Mashilo sê dit stem ooreen met resolusies wat terugdateer na Julie 2022, waaronder die vergrote voltallige sentrale komiteevergadering in Maart en April 2023 en die vyfde spesiale nasionale kongres in Desember 2024 om in verkiesings te staan:
# Die Russiese president Vladimir Putin sê hy is gewillig om die lewens van Oekraïense soldate in die Kursk-streek te spaar. Dit volg op die Amerikaanse president Donald Trump se pleidooi vir die soldate wat deur Russiese troepe vasgekeer is. Putin sê ‘n volle oorgawe en onttrekking is eers nodig. Intussen is die Russiese leër, glo gesteun deur troepe uit Noord-Korea, op die punt om Oekraïense magte te verdryf uit hulle vesting in die Kursk-grensstreek, wat ‘n groot terugslag sal wees vir Kiëf.
# En rugby: Frankryk het Skotland gisteraand met 35-16 in Stade de France geklop en die Sesnasieskroon ingepalm. Na Engeland se rekord 68-14-oorwinning oor Wallis vroeër gister in Cardiff, moes Les Bleus die besoekers klop en het dit reggekry met ‘n bonuspunt-oorwinning met vier drieë. Die heelagter Thomas Ramos se bydrae het ‘n drie ingesluit as deel van ‘n 19-punte blits binne 20 minute na rustyd. Dit het Frankryk hulle tweede kampioenskap in vier jaar gegee, maar hulle het die Grand Slam misgeloop nadat Engeland hulle in die tweede ronde ondergekry het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….