Nuus 16:00
BULLETIN 14 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die moordenaar Enoch Ndou word in Limpopo gevonnis tot lewenslange tronkstraf vir sewe moorde op Kersdag
# Motorsport: Lewis Hamilton sê sy eerste dag in ‘n Ferrari was heeltemal anders
# En die goudprys styg die eerste keer ooit bo drie-duisend-dollar per fynons
# Die Hooggeregshof van Thoyondou wat in die Landdroshof in Waterval, Limpopo, sit, het die moordenaar Enoch Ndou gevonnis tot lewenslange tronkstraf vir die moord op sewe familielede. Hy het die slagoffers vier jaar gelede op Kersdag in Malamulele geskiet oor ‘n geskil rondom ‘n erfporsie. Ndou was emosioneel toe sy vonnis gelees is. Regter Thogomelani Tshidada sê dit was nodig om hom die swaarste moontlike straf op te lê:
# Statistieke Suid-Afrika berig mynbouproduksie het in Januarie vanjaar met 2,7-persent afgeneem vergeleke met verlede jaar. Die grootste negatiewe bydraers was ystererts, platinumgroep-metale en steenkool, met aansienlike uitsettingsdalings. Mineraalverkope het met ses-persent afgeneem, hoofsaaklik as gevolg van goud en chroom-erts. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke Suid-Afrika sê mangaan-erts het ‘n noemenswaardige toename van 21-persent getoon:
# Die organisasie Business Against Crime South Africa vra sake-ondernemings om sy afpersings-voorkomingsprogram, die Oë- en Ore-projek, te gebruik. Die program, in vennnootskap met die polisie, weerstaan afpersing in infrastruktuur- en bouprojekte. Dit bied aan ondernemings regstreekse toegang tot wetstoepassing, wat blitsige ingryping moontlik maak. Uitvoerende hoof Graham Wright sê die projek het afpersing in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal verminder.
# Motorsport: Lewis Hamilton sê sy eerste mededingende dag in ‘n Ferrari was heeltemal anders, maar hy sien uit daarna om op die eerste Grand Prix in Australië meer spoed uit die motor te haal. Die sewemalige wêreldkampioen het in Januarie amptelik by Scuderia Ferrari begin werk na sy onverwagte skuif van Mercedes na 12 jaar. Hoewel die Brit 162 rondes voltooi het tydens toetse in Bahrein, was hy die eerste keer agter ‘n Ferrari se stuurwiel in ‘n Grand Prix. Hy was vyfde in die tweede oefening nadat hy 12de was in die eerste een.
# Die goudprys het vanoggend die eerste keer ooit tot meer as drie-duisend-dollar per fynons gestyg. Beleggers het na dié bate gestroom, en beskou dit as ‘n veilige hawe te midde van onsekerheid oor die gevolge van Amerikaanse tariewe. Goud het in die oggendtransaksies met 2,94-persent gestyg, ‘n dag nadat die metaal sy rekord van laat Februarie verbeter het.
Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-421-dollar. Die prys van goud is tans twee-duisend-998-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….