Nuus 15:00
BULLETIN 14 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê drie-miljard-rand se staatshulp aan ArcelorMittal is te min
# Die Oos-Kaap ontplooi amptenare na gebiede wat erg getref is deur swaar reën
# En die goudprys styg die eerste keer ooit bo drie-duisend-dollar per fynons
# Die vakbond Solidariteit sê die voorgestelde staatshulp van drie-miljard-rand aan die staalprodusent ArcelorMittal Suid-Afrika is nie genoeg nie, tensy dit ‘n duidelike langtermyn-plan insluit. Die vakbond dring aan op deursigtigheid van die maatskappy en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, want afleggings en fabrieksluitings duur voort. Willie Venter van Solidariteit sê raadpleging oor die afleggingsproses gaan vandag voort:
# Statistieke Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in Januarie met 3,3-persent afgeneem vergeleke met Januarie verlede jaar. Die grootste dalings is in petroleum, voedsel, drank en motorvoertuie. Die houtprodukte-sektor het egter positiewe groei getoon. Nicolai Claassen van Stats SA sê vervaardiging het die afgelope drie maande negatiewe groei ervaar, met verskeie sektore wat verliese aangeteken het:
# Die Oos-Kaapse Departement van Vervoer het amptenare en ingenieurs na geraakte gebiede ontplooi terwyl swaar en aanhoudende reën meeste dele van die provinsie tref. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê sommige van die gebiede wat die ergste geraak is, word gereeld deur oorstromings getref, soos Chris Hani, OR Tambo, Amathole en Alfred Ndzo. Bingose sê paaie en brûe is weggespoel en maak dit moeilik vir mense om rond te beweeg:
# Krieket: Die veelsydige Indiese speler Axar Patel is as kaptein van die Delhi Capitals aangewys vir vanjaar se Indiese Premierliga. Die 31-jarige sal die span die sesde jaar verteenwoordig nadat hy reeds altesaam 967 lopies aangeteken en 62 paaltjies platgetrek het in 82 wedstryde. Axar het ook ‘n sleutelrol gespeel in sy land se onlangse Kampioenetrofee-oorwinning, met vyf paaltjies en ‘n groot bydrae op nommer vyf in die kolforde. Hy neem Delhi se kapteinskap oor by Rishabh Pant, wat na Lucknow Super Giants geskuif het.
# En die goudprys het vandag die heel eerste keer tot meer as drie-duisend-dollar per fynons gestyg. Beleggers het na dié bate gestroom, en beskou dit as ‘n veilige hawe te midde van onsekerheid oor die gevolge van Amerikaanse tariewe. Goud se waarde het in die oggendtransaksies met 2,94-persent gestyg, ‘n dag nadat die metaal sy rekord van laat Februarie verbeter het.
Goud verhandel tans teen twee-duisend-998-dollar-10 sent. Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-999-dollar. Die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….