Goeie Nuus
BULLETIN 14 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die bekroonde akteur en regisseur, Thomas Gumede, is op die internasionale Krimson Horyzon-filmfees in Indië vereer. Hy het die toekenning vir beste rolprent ontvang vir sy fliek, Family and Rugby. Die prent, met Bongile Mantsai en Ayanda Makhayi in die hoofrolle, vertel die verhaal van ‘n jong rugbyster se stryd tussen sy sport en die naakte werklikhede van ‘n township-lewe. Gumede se Netflix-film Kedibone is in 2022 op die Septimius-toekennings vereer as beste Afrika-rolprent.
# Die koor van die Universiteit van Pretoria, TUKS Camerata, gaan later dié maand die hoofuitvoering lewer op die nasionale konferensie van die Vereniging van Amerikaanse Koordirekteurs in Dallas, Texas. Die vereniging bevorder koorsang as belangrike medium vir die uitdrukking van kontemporêre kuns. TUKS Camerata, onder leiding van dirigent Michael J Barrett, sal koorstukke in Suid-Afrika se inheemse tale uitvoer om insig te bied in ‘n aantal van die land se kultuurelemente.
# Die Universiteit Stellenbosch het in die 2025-uitgawe van Quacquarelli Symonds se wêreld-vakranglys erkenning gekry. Altesaam een-duisend-747 instellings is volgens 55 spesifieke vakke in vyf breë vakgebiede beoordeel. Dit is Lewenswetenskappe en Medisyne, Kuns en Geesteswetenskappe, Maatskaplike Wetenskappe en Bestuur, Natuurwetenskappe, en Ingenieurswese en Tegnologie. Stellenbosch is in 21 vakke gegradeer en blink uit in Lewenswetenskappe en Medisyne. Professor Sibusiso Moyo van die universiteit sê die ranglys bevestig die gehalte van die instelling se akademiese programme.
# Die Universiteit van Fort Hare beklemtoon die merkwaardige bydraes van sommige mense by die instelling wat die gees van diens en deernis uitdra. Dit is deel van sy Jaar van Diens-uitnemendheid. Die 44-jarige maatskaplike werker, Nosicelo Buwa, is een van hierdie persone. Haar hoofprojek is bewusmaking van gestremdheid, en ʼn rolstoelveldtog. Die projek wil bewustheid skep oor die daaglikse probleme van studente met gestremdhede. Buwa sê sy is vasbeslote om ʼn meer inklusiewe samelewing te bevorder.
# En ten slotte: Die Crew for a Cause-liefdadigheid en die Star-stigting werk saam om beurse te bied aan tien begaafde leerders uit arm gemeenskappe in die Wes-Kaap. Die skenking van 460-duisend-rand wil hierdie leerders help om toonaangewende hoërskole by te woon en hulle ʼn kans op ʼn beter toekoms te gee. Die vennootskap wil voortgaan om waardevolle opvoedkundige geleenthede te bied en hierdie leerders se akademiese sukses te ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….