Nuus 11:00
BULLETIN 14 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Politieke ontleder sê die EFF en die MK-party moet hul opposisierolle versterk
# Nege parlementslede word berispe en beboet omdat hulle nagelaat het om hulle finansiële belange te verklaar
# En ‘n American Airlines-straler slaan aan die brand, maar almal aan boord word veilig ontruim
# ‘n Politieke ontleder, Asanda Ngoasheng, sê die EFF en die MK-party daag nie die regering van nasionale eenheid uit as die opposisiepartye nie. Ngoasheng het teenoor Newzroom Afrika aangevoer albei partye sal ‘n meer pro-aktiewe benadering moet volg om beleide te ondersoek en toesig uit te oefen. Sy voeg by die partye se rolle in begrotingsdebatte sal deurslaggewend wees, aangesien hulle sleutelbesluite in die Parlement kan beïnvloed:
Die Parlement se gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange het intussen besluit om nege parlementslede te berispe en te beboet omdat hulle nie hul finansiële en registreerbare belange verklaar het teen die sperdatum van 14 Oktober verlede jaar nie. Die boetes wissel tussen tien-duisend- en 12-duisend-500-rand. Die komitee sê hy is verbind om aanspreeklikheid van alle parlementslede te eis omdat die bekendmakingsproses die publiek se vertroue in die instelling bevorder.
# ActionSA in Johannesburg verwerp die metro se aansuiweringsbegroting wat gister in die raad aanvaar is. Altesaam 105 raadslede – wat dié van die DA en ActionSA insluit -het die voorgestelde begroting verwerp, terwyl 138 raadslede van die ANC-geleide regering van plaaslike eenheid dit aanvaar het. Zark Lebatlang van Action SA sê hulle is veral bekommerd oor die kragtoeslag van 230-rand wat inwoners moet betaal:
# Amerika se Federale Lugvaart-administrasie stel ondersoek in nadat ‘n brand uitgebreek het op ʼn American Airlines-vlug van Colorado Springs na Dallas-Fort Worth. Die vlug met 172 passasiers aan boord is na Denver herlei nadat die bemanning enjinvibrasies aangemeld het. Die FAA sê ‘n enjin het aan die brand geslaan nadat die vliegtuig geland het. Op beeldmateriaal kan gesien word hoe passasiers deur rook omring op die Boeing se vlerk saamdrom. Twaalf passasiers is hospitaal toe geneem vir geringe beserings.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Carlos Alcaraz, het die vierde agtereenvolgende jaar deurgedring na die halfeindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi toe hy Francisco Cerundolo van Argentinië geklop het. Hy kom nou teen die Brit Jack Draper te staan, wat die Amerikaner Ben Shelton uitgeskakel het. Daniil Medvedev van Rusland het Arthur Fils van Frankryk verslaan. In die vroueafdeling is die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, en die Rus Mirra Andreeva deur na die halfeindronde. Alcaraz sê hy geniet die toernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-983-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….