Nuus 17:00
BULLETIN 13 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAOG beëindig sy militêre sending in die DRK
# ‘n Gewese Australiese krieketspeler word skuldig bevind in ‘n dwelmsaak
# En studente van Wits hou ‘n kaal-betoging oor die registrasie-krisis
# Die Suider-Afrika-Ontwikkelingsgemeenskap het besluit om sy militêre ontplooiing in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo te beëindig na swaar ongevalle. ‘n Gefaseerde onttrekking van soldate is bevestig tydens ‘n virtuele beraad. Die sending het in Desember 2023 begin om die streek weer bestendig te kry, maar het toenemende ongevalle meegebring, insluitend 14 Suid-Afrikaanse soldate. Angola het intussen aangekondig vredesonderhandelings tussen die DRK en die M23-rebelle begin volgende week in Luanda.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê Eskom se kragopwekkingsvermoë het aansienlik vebeter, met 98-persent van die dae wat sedert verlede somer sonder beurtkrag was. Die kabinet verwelkom pogings om die nasionale netwerk bestendig te kry, insluitend die herstel van eenhede by die Kusile- en die Koeberg-kragstasie. Ntshavheni het op ‘n nuuskonfernsie gesê die kragreus se pogings het gelei tot meer bestendige elektrisiteitsvoorsiening en noem ook die regering steun die voortdurende vordering:
# Die Outomobiel-Assosiasie vra gesamentlike openbare optrede om padsterftes te beperk. Die AA sê die groot aantal busongelukke het reeds landswyd tot 32 sterftes gelei. Dit sluit Dinsdag se ongeluk op die R21 in Ekurhuleni in waarin 13 mense dood is. Woordvoerder Eleanor Mavimbela sê swak bestuurdersgedrag is die hoofoorsaak van die ongelukke en vra sterker wetstoepassing, openbare bewustheid en verbeterde padinfrastruktuur:
# ‘n Voormalige Australiese toetskrieketspeler is skuldig bevind aan deelname in die verskaffing van ‘n verbode dwelm in Sydney. Die saak teen die 54-jarige Stuart MacGill volg nadat hy in April 2021 ‘n ontmoeting tussen ‘n kokaïenhandelaar en nog ‘n persoon gereël het. Die hof in Nieu-Suid-Wallis het gehoor sy betrokkenheid was beperk tot die ontmoeting, maar die dwelmhandelaar het aan twee ander voorvalle deelgeneem. MacGill sal in Mei gevonnis word. Die voormalige draaibouler het tussen 1998 en 2008 208 paaltjies in 44 toetse vir Australië laat kantel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-718-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-944-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die Wits-eetstakings-solidariteitskomitee hou vandag ‘n kaal-betoging in Johannesburg en dring aan op die registrasie van alle ongeregistreerde studente, ongeag geskiedkundige skuld. Dit volg na ‘n eetstaking van 12 dae waartydens die Wits Universiteit geweier het om met studente te kommunikeer. Betogers beskuldig die instelling van voortgesette finansiële uitsluiting. Die versetoptrede vra weerstand teen ingewortelde onderdrukking. Studente beloof om hulle stryd uit te brei deur hulle saak te koppel aan die breër stryd vir toegang tot hoër onderwys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….