Nuus 16:00
BULLETIN 13 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra dringend beter belasting-invordering in plaas van ‘n BTW-verhoging
# Rugby: Skotland wil Saterdag Frankryk se hoop op die Sesnasies-titel verydel
# En ‘n reënwoud word in die Amasone uitgekap om ‘n pad te bou vir ‘n klimaats-beraad
# Die DA vra dringende belastinghervorming in plaas van om die BTW-koers te verhoog aangesien dit armoede sal vererger. Hulle glo dat miljarde-rand herwin kan word deur verbeterde toepassing en groter bekwaamheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Mark Burke van die DA waarsku dat die verhoging van altesaam een-persent in BTW die armes buite verhouding sal benadeel deur voedselpryse en lewenskoste te verhoog:
Die ANC het egter die begroting verwelkom, en sê dit gee voorkeur aan ekonomiese groei, werkskepping en dienslewering. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het op ‘n nuuskonferensie gesê dat die begroting ‘n beslissende ingryping is wat geskiedkundige ongeregtighede uit die weg ruim. Hy beklemtoon dat ekonomiese transformasie steeds kernbelangrik is vir die regering, en het weer die ANC se verbintenis beklemtoon om armoede uit te roei en ongelykheid te verminder:
# Die kabinet is optimisties oor ekonomiese groei, en verwys na die 0,6-persent groei in die vierde kwartaal van verlede jaar, met noemenswaardige verbetering in landbou, finansies en handel. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê dat die ekonomiese hervormings, beter dienslewering, en privaat sektor-betrokkenheid groei vanjaar verder sal stimuleer:
# Rugby: Die agsteman Jack Dempsey sê Skotland is vasbeslote om Saterdag Frankryk se Sesnasies-titeldrome te verydel in die laaste ronde-wedstryd in Parys. Frankryk is boaan die punteleer met 16 punte, gevolg deur Engeland met 15 en Ierland met 14. ‘n Oorwinning oor Skotland behoort die kompetisie in Frankryk se guns te beklink, terwyl Skotland beslis die buiteperd is nadat hulle twee van hulle vorige vier wedstryde verloor het. Dempsey sê egter die Skotte gaan na die Stade de France om hulle gashere se partytjie te bederf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-999-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-945-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-23-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe hoofweg met vier bane wat vir die COP30-klimaatsberaad in die Brasiliaanse stad Belém gebou word, loop deur tienduisende hektaar beskermde reënwoude in die Amasone. Dit is daarop gemik om verkeer na die stad te vergemaklik wanneer wêreldleiers en meer as 50-duisend mense die konferensie in November bywoon. Die Amasone speel ‘n uiters belangrike rol om koolsuurgas te absorbeer en bioverskeidenheid te voorsien. Kritici sê die ontbossing weerspreek juis die doel van die klimaatsberaad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….