Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 13 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Kaapstadse Karnaval wat weer Saterdag in Groenpunt aangebied word, word beskryf as ‘n kleurvolle viering van kreatiwiteit, kultuur en die uitvoerende kunste. Die karnaval, wat sy 15de bestaansjaar vier, het talle bekende kunstenaars gelok soos YoungstaCPT, DJ Ready D, Bravo le Roux, Paxton Fielies en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê daar gaan sowat een-duisend-500 deelnemers van oral in die metro wees wat toeskouers gaan vermaak:
# Twee jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gaan volgende week hul vernuwende navorsing ten toon stel op die Internasionale Fees van Ingenieurswese, Wetenskap en Tegnologie in Tunisië. Hamzah Ismail en Vibhav Ramdas is albei graad 12-leerders aan St Dominics Newcastle School in KwaZulu-Natal. Parthy Chetty van Eskom sê Hamzah gaan sy navorsingsprojek, Ontwikkeling van ekovriendelike, brandvertragende plastiekstene as ‘n alternatief in moderne bouwerk ten toon stel. Hy sê Vibhav se navorsingsprojek is Die gebruik van voorwerpopsporing om padonderhoud te verbeter:
# Die Collen Mashawana-stigting het skoolskoene en klaskamermeubels aan die Adelaide Thambo-skool in Soweto geskenk. Die skenking sal sowat 400 leerders met spesiale behoeftes bevoordeel. Die skool, wat 45 jaar gelede tot stand gekom het, bedien leerders met fisiese gestremdhede wat ondersteun word deur 140 versorgers en onderwysers. Die stigting het ook finansiële ondersteuning beloof om te verseker die kinders ontvang die nodige sorg. Die stigting se stigter, Collen Mashawana, sê om mense te ondersteun is noodsaaklik sodat hulle ‘n regverdige kans het om in die samelewing te kan floreer.
# ‘n Groep fietsryers van Soweto gaan volgende week die 600-kilometer na Kimberley aandurf om 100-duisend-rand in te samel vir die opknapping van biblioteke by die Bethany Combined School in Klipspruit en die Lodirile Primary School in Dobsonville. Die sogenaamde TourDeLibraries word gelei deur die plaaslike entrepreneur Mpumelelo Mtintso. Dit begin Maandag en hulle mik om die rit volgende Vrydag op Menseregtedag te voltooi. Die fietsryers hoop hulle avontuur sal ook help om groter bewustheid oor padveiligheid en die behoefte aan verbeterde fietsry-infrastruktuur te skep.
# En ten slotte: Amazon MGM Studios werk aan ‘n biografiese rolprent oor die lewe van die 15-malige Major-gholfkampioen, Tiger Woods. Dit is ‘n aanpassing van Kevin Cook se biografie, The Tiger Slam. Die prent fokus op Woods se grootste prestasie toe hy in 2000 die Amerikaanse en Britse Ope en die PGA kampioenskap gewen het asook die 2001 Meesters om vier major trofees in te palm. Higher Ground Productions, wat deur die voormalige Amerikaanse president Barack Obama en sy vrou, Michelle, gestig is, is besig om te onderhandel oor die vervaardiging van die rolprent saam met Winkler Films.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….