Nuus 14:00
BULLETIN 13 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet glo die saak teen die Bushiris is sterk ondanks hulle voorneme om te appelleer teen hulle uitlewering
# Die NUM sê die voortsetting van Eskom se onderverdeling sal nie die energiekrisis oplos nie
# En 78 gevalle van hand-, voet- en mondsiekte is nou reeds in die Oos-Kaap aangeteken
# Die kabinet het ‘n Malawiese hof se uitspraak verwelkom om die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, aan Suid-Afrika uit te lewer. Hulle staan tereg op verskeie strafregtelike aanklagte, insluitend verkragting en finansiële misdade. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê ondanks die Bushiris se voorneme om te appelleer, is die regering vol vertroue oor die saak en werk saam met Interpol om te verseker die beskuldigdes word teruggestuur om verhoor te word:
# Die mynwerkersvakbond NUM sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begroting sal die energiekrisis vererger. Die vakbond sê om voort te gaan met Eskom se onderverdeling in drie ondernemings sal nie die energiekrisis oplos nie, maar is eerder ‘n manier om energiesake oop te stel vir die vryemark. Khangela Baloyi van NUM sê Godongwana het aangekondig Eskom se laaste skuldoorname van 70-miljard-rand sal vervang word met 40-miljard-rand in die huidige boekjaar en 10-miljard in 2028/’29:
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement sê gevalle van hand-, voet- en mondsiekte in die provinsie het reeds tot 78 gestyg. Die siekte kom veral voor onder dagsorg-kinders en leerders in laerskole, en raak hoofsaaklik leerders in graad R tot 5. Die departement se woordvoerder, Siyanda Manana, sê gevalle het die afgelope paar weke aansienlik toegeneem in die Buffalo City-munisipaliteit:
# Die Verenigde Nasies het tot die gevolgtrekking gekom dat Israel volksmoord gepleeg het in Gaza deur die stelselmatige vernietiging van seksuele en reproduktiewe gesondheidsorginstellings. Die VN se kommissie van ondersoek sê Israel het opsetlik die belangrikste vrugbaarheidsentrum in die Palestynse gebied vernietig, en terselfdertyd die gebied omring en alle hulp verhoed, insluitend medikasie om veilige swangerskappe, geboortes en nageboorte-sorg te verseker. Israel beskuldig die kommissie van die bevordering van ‘n voorafbepaalde en bevooroordeelde politieke agenda in ‘n skaamtelose poging om die Israelse Weermag te betrek.
# Motorsport: Australiër Oscar Piastri se nuwe veeljarige kontrak met McLaren se Formule Een-span word volgens berigte op ‘n reusagtige 477-miljoen-rand per jaar beraam. Die 23-jarige is beloon nadat hy verlede jaar vierde geëindig het in die bestuurderskampioenskap en sy span gehelp het om die vervaardigerskampioenskap die eerste keer sedert 1998 in te palm. Sy Britse spanmaat Lando Norris, wat verlede jaar tweede geëindig het, het reeds voor die vorige seisoen sy kontrak verleng. Piastri het 128-miljoen-rand per seisoen in sy vorige kontrak verdien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-250-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-943-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….