Nuus 13:00
BULLETIN 13 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAOG besin vandag oor die ontrekking van sy magte uit die DRK
# Die kabinet verwelkom die begroting wat balans skep tussen fiskale bestendigheid en maatskaplike ondersteuning
# En oudregter Yvonne Mokgoro se familie vra geregtigheid terwyl haar vriend verhoor word oor haar dood
# Die lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap neem vandag deel aan ‘n virtuele beraad om te besluit of die SAOG sy militêre mag uit die Demokratiese Republiek die Kongo moet onttrek. ‘n Verslag deur Weermaghoofde beveel aan dat die sending beëindig moet word, en sê die mandaat is onhoudbaar. Onlangse skermutselings met M23-rebelle het Suid-Afrika, Malawi en Tanzanië met 18 sterftes gelaat. Daar is steeds soldate wat in Goma vasgekeer is. Die gesprekke sal ook ‘n wapenstilstand, humanitêre hulp en sekerheidsmaatreëls insluit.
# Die kabinet verwelkom die nasionale begroting en sê dit skep ‘n balans tussen fiskale bestendigheid en die ondersteuning van kwesbare gemeenskappe. Planne is ingesluit om skuld te bestuur, noodsaaklike dienste in stand te hou en ekonomiese groei te bevorder. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê die begroting bied die versekering dat kritieke dienste befonds sal word en lae- en middelinkomste-huishoudings beskerm word teen ekonomiese druk:
Tax Justice SA sê intussen die verhoging in BTW en sondebelasting sal nie die inkomste verseker waarop die regering hoop nie, maar net onwettige handelaars ‘n hupstoot gee. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die BTW-koers met 0,5-persent opgestoot ondanks groot weerstand teen enige belastingverhogings. Yusuf Abramjee van Tax Justice SA sê in plaas daarvan om die onwettige handel te pak wat reeds die fiskus elke jaar 100-miljard-rand ontsê, het die regering gekies om wetsgehoorsame ondernemings en verbruikers te straf:
# Die familie van wyle regter Yvonne Mokgoro doen ‘n beroep vir geregtigheid terwyl haar vriend David Mmelesi tereg staan op ‘n aanklag van strafbare manslag. Die oudregter van die Konstitusionele Hof het in April 2023 ernstige beserings opgedoen in ‘n motorongeluk naby Kimberley in die Noord-Kaap, en is in Mei verlede jaar oorlede. Mmelesi, wat na bewering daardie aand bestuur het, ontken skuld. Die verhoor duur vandag voort in Barkly-Wes se Landdroshof met kruisondervraging.
# Krieket: Afganistan hoop om Ierland volgende jaar te besoek vir ‘n veelformaat-reeks nadat die Iere vanjaar se toer om finansiële redes afgestel het. Ierland moes Afganistan in Augustus ontvang vir ‘n eenmalige toets, drie eendagwedstryde en drie T20s. Krieket Ierland se uitvoerende hoof, Warren Deutrom, sê die besluit is deel van die bestuur van korttermyn-begrotingsbeperkings. Afganistan sê die twee lande oorweeg geskikte moontlikhede om die toer te herskeduleer en hoop om ‘n gleuf te vind wat albei pas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-243-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-944-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….