Nuus 16:00
BULLETIN 12 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BTW verhoog vanjaar met 0,5-persentasiepunte en nog 0,5 volgende jaar
# Nog ‘n busongeluk vind in Ekurhuleni plaas
# En sokker: Patrice Motsepe word onbestrede herkies as president van CAF
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n plan aangekondig om die BTW-koers teen 2026/’27 tot 16-persent te verhoog. Die koers sal op 1 Mei met 0,5-persentasiepunte styg en op 1 April volgende jaar met ‘n bykomende 0,5-persentasiepunte. Godongwana het in sy begrotingsrede gesê die verhoging word benodig om staatsbesteding aan noodsaaklike dienste soos gesondheid, onderwys, vervoer en sekerheid te ondersteun:
# Nog ‘n busongeluk is aangemeld in Wadeville in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-rand. Die bus met 65 sitplekke het leerders van Sekgotlong Primary vervoer. Dit het vanoggend teen ‘n vragmotor-sleepwa gebots en 19 kinders is beseer. William Ntladi van die metro se Rampbestuursdienste sê niemand is dood nie, en die oorsaak van die botsing word ondersoek:
Die Personeelvereniging van die Motorbedryf vra intussen omsigtigheid ná verskeie dodelike busongelukke in Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Die vereniging is bekommerd oor die toenemende aantal busverwante sterftes nadat 323 noodlottige ongelukke en 487 sterftes binne die afgelope vyf jaar aangemeld is. Die jongste botsing, naby die OR Tambo Internasionale Lughawe, het dertien mense se lewens geëis en 45 is beseer. Sonja Carstens van die vereniging betuig medelye aan die slagoffers se gesinne en dring aan op meer waaksaamheid op die paaie, veral vir busbestuurders.
# Sokker: Patrice Motsepe van Suid-Afrika is onbestrede herkies vir ‘n tweede termyn as president van die Afrika-beheerliggaam, CAF. Hy word erken vir die verbetering van CAF se geldsake en professionaliteit. Motsepe, ‘n mynmagnaat en die eienaar van Mamelodi Sundowns, is in 2021 tot die amp verkies. Hy het daarna opsy gestaan as Sundowns se president en sy seun, Tlhopie Motsepe, is tans die klub se voorsitter. Motsepe sal tot 2029 as president dien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-973-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-913-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaans-gebore Hollywood-aktrise en vervaardiger, Charlize Theron, sal van vandag tot Saterdag gevier word tydens die Galileo-opelugfliek se vertonings in Kirstenbosch in Kaapstad. Theron se uiteenlopende rolle en besondere talent word gevier met haar flieks Long Shot, Mad Max: Fury Road, Kubo and The Two Strings en The Italian Job. Kaartjies is beskikbaar van 145-rand per persoon terwyl studente en pensioenarisse 25-rand afslag kry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….