Nuus 15:00
BULLETIN 12 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BTW verhoog met 0,5-persentasiepunte vanjaar en nog 0,5 volgende jaar
# Nog ‘n busongeluk vind in Ekurhuleni plaas
# En Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere na Afrika het verlede jaar toegeneem
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het aangekondig belasting op toegevoegde waarde gaan vanjaar met 0,5-persentasiepunte verhoog, en met nog 0,5-persentasiepunte volgende jaar. Dit is ondanks erge teenstand teen sy plan om BTW te verhoog. Die aanvanklike plan was ‘n verhoging van twee persentasiepunte. Persoonlike inkomstebelasting en kortings word nie vanjaar aangepas vir inflasie nie. Godongwana sê in sy begrotingsrede die regering stel ‘n BTW-koers van nul-persent voor op bykomende noodsaaklike voedselitems om verligting te bied vir lae-inkomste huishoudings, en daar is geen veranderings aan die brandstofheffing nie.
# Nog ‘n busongeluk is aangemeld in Wadeville in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-rand. Die bus met 65 sitplekke het leerders van Sekgotlong Primary vervoer. Dit het vanoggend teen ‘n vragmotor-sleepwa gebots en 19 kinders is beseer. William Ntladi van die metro se Rampbestuursdienste sê niemand is dood nie, en die oorsaak van die botsing word ondersoek:
# Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid berig Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere na Afrika het tussen Oktober en Desember verlede jaar met 16-persent gegroei en 30-miljard-rand bereik. Die buro sê al is uitvoere oor die algemeen stiller, bly die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap die grootste mark, wat verantwoordelik was vir byna 50-persent van die uitvoere. Sleutelgroeigebiede sluit in Namibië met 23-persent, Zimbabwe met 66-persent en Madagaskar met 139-persent. Invoere uit Afrika het intussen met tien-persent afgeneem. Die buro waarsku wêreldwye onsekerhede, insluitend geopolitieke spanning en handelsooreenkomste, kan landbouhandel vanjaar verder beïnvloed.
# Gewapende militante in die Balochistan-streek in Pakistan het ‘n trein met meer as 400 passasiers aangeval en ‘n aantal gyselaar geneem. Die Baloch-bevrydingsleër sê hulle het bomme op die spoor geplant voordat hulle die sneltrein in die afgeleë Sibi-distrik bestorm het. Ten minste 16 militante is dood en 100 passasiers bevry, waaronder 17 beseerde passasiers wat na ‘n hospitaal geneem is vir behandeling. Die militante het gedreig om die gyselaars dood te maak as die owerhede nie die groep se politieke gevangenes binne 48-uur vrylaat nie.
# Motorsport: Die Australiër Oscar Piastri het ingestem tot ‘n nuwe veeljarige kontrakverlenging met McLaren se Formule Een-span. Sy huidige kontrak verstryk volgende jaar. Die 23-jarige renjaer, wat in 2023 by die span aangesluit het, het verlede jaar vierde gekom in die bestuurderskampioenskap. Dit het grootliks bygedra dat McLaren die vervaardigerstitel die eerste keer sedert 1998 kon opraap. Piastri sê dis wonderlik om te weet hy is deel van McLaren se langtermyn-planne:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-659-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-913-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….