Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Atletiek: ‘n Voormalige Suid-Afrikaanse verspring-ster keer vandag terugkeer nadat hy ‘n tweede skorsing vir opkikkergebruik uitgedien het. Luvo Manyonga is in 2012 geskors voor hy ‘n silwermedalje ingepalm het op die Olimpiese Spele in Rio in 2016, en goud op die wêreldkampioenskap in 2017. Hy is weer in 2020 geskors omdat hy ‘n verpligte opkikkertoets misgeloop het. Die 34-jarige Manyonga sal vanaand aan Atletiek Suid-Afrika se Grand Prix-byeenkoms in Pretoria deelneem. Sy laaste mededingende byeenkoms was in 2019 in Londen waar hy 8,37-meter gespring het.
# Krieket: Die Protea-vrouespan neem volgende maand deel aan ‘n driehoekige eendag-internasionale reeks teen Sri Lanka en Indië in Colombo. Dit sal dien as belangrike voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi in Indië later vanjaar. Dit sal ook die eerste keer sedert 2017 wees dat Suid-Afrika na Sri Lanka reis toe die destydse Wêreldbeker-kwalifiseerders – die Proteas – in die eindstryd met een paaltjie teen Indië verloor het. Afrigter Mandla Mashimbyi sê hulle sal kan bepaal watter kombinasies werk die beste vir die toestande.
# Motorsport: Die Australiër Oscar Piastri het ingestem tot ʼn nuwe veeljarige kontrakverlenging met McLaren se Formule Een-span. Sy huidige kontrak verstryk volgende jaar. Die 23-jarige renjaer, wat in 2023 by die span aangesluit het, het verlede jaar vierde gekom in die bestuurderskampioenskap. Dit het grootliks bygedra dat McLaren die vervaardigerstitel die eerste keer sedert 1998 kon opraap. Piastri sê dis wonderlik om te weet hy is deel van McLaren se langtermyn-planne:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, is deur na die kwarteindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika. Die wêreld-nommer-twee, wat probeer om die eerste te vrou te word om die toernooi drie keer te wen, het die Tsjeg Karolina Muchova 6-1, 6-1 afgeransel. Elina Svitolina van Oekraïne het die Amerikaner Jessica Pegula verslaan. In die mansafdeling het Holger Rune van Denemarke met die Griek, Stefanos Tsitsipas, afgereken en sy wenlopie van sewe wedstryde beëindig.
# En ten slotte, gholf: Die vyftienmalige Major-kampioen, Tiger Woods, is geopereer nadat hy sy linker-hakskeensening geskeur het toe hy tuis geoefen het. Die 49-jarige Woods sê die operasie het goed afgeloop en hy sal waarskynlik ten volle herstel. Woods, wat in Julie verlede jaar laas in ʼn amptelike PGA-toer meegeding het, kan moontlik ook Die Meesters op Augusta misloop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….