Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Suid-Afrika het na die laaste ronde van die Afrikanasies-kampioenskap se kwalifiseringsronde deurgedring deur Egipte 3-1 te klop in die Suez Kanaal-stadion in Ismailia. Kaptein Neo Maema en Yandisa Mfolozi se doele en Siphelele Luthuli se strafdoel het Bafana se sege in die tweede wedstryd van hulle kragmeting verseker vir ‘n gemiddeld van 4-2. Hulle het ‘n week gelede in Bloemfontein gelykop gespeel. Bafana speel volgende teen Malawi om te bepaal wie in Augustus in die eindtoernooi in Kenia, Tanzanië, en Uganda sal speel.
# Gholf: Calum Hill van Skotland het ná ‘n driehoekige uitspeelstryd die Johannesburgse Ope op die Houghton Gholfklub gewen. Hill en die Suid-Afrikaners Jacques Kruyswijk en Shaun Norris het baansyfer op die eerste uitspeelputjie behaal. Norris het sy tweede skoot in die water laat beland, Hill het baansyfer behaal, terwyl Kruyswijk een oor baansyfer aangeteken en die Skot gewen het. Hill, wat nou twee DP World-toertitels gewen het, sê die uitspeelstryd was intens:
# Fietsry: Byna 28-duisend deelnemers het deelgenaam aan gister se 47ste Kaapstadse fietstoer. In die mans-elite-afdeling het die 21-jarige Suid-Afrikaner Tyler Lange koning gekraai terwyl Pia Grünewald van Duitsland met ‘n gemaklike voorsprong die vrouetitel gewen het. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, wat saam met sy vrou deelgeneem het, sê dit was ʼn wonderlike geleentheid:
# Krieket: Harry Brook van Engeland kan moontlik vir twee jaar uit die Indiese Premierliga geskors word nadat hy aan vanjaar se toernooi onttrek het. Dis die tweede agtereenvolgende jaar dat hy voor die kompetisie onttrek. Die 26-jarige Brook het verlede jaar ʼn kontrak met Delhi Capitals onderteken, maar sê hy het tyd nodig om te herstel ná die besigste tyd van sy loopbaan. Brook is ʼn gunsteling om Jos Buttler as Engeland se witbalkaptein te vervang nadat hulle in die groepfase van die Kampioene-trofee uitgeskakel is.
# En tennis: Verlede jaar se naaswenner, Daniil Medvedev, is deur na die ronde van 16 van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika. Die Rus het deurgedring nadat sy plaaslike teenstander, Alex Michelsen, weens voedselvergiftiging moes handdoek ingooi na slegs twee potte. Die agste-gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland het die Italianer Matteo Berrettini geklop, terwyl die Japannese kwalifiseerder Yosuke Watanuki met die Amerikaner Frances Tiafoe afgereken het. In die vroueafdeling het die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, Dayana Yastremska van Oekraïne verslaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….