Nuus 12:00
BULLETIN 10 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê hervorming bly ‘n uitdaging vir die landbousektor
# GIWUSA eis minister McKenzie se afdanking oor beweerde rassisme
# En die VF Plus in Gauteng maan die publiek om alle misdade aan te meld
# President Cyril Ramaphosa sê landbou is een van die belangrikste sektore in die ekonomie, aangesien die produkte en dienste wat dwarsdeur die waardeketting geproduseer word, die land se voedselsekerheid onderskraag. Volgens data van Agbiz het Suid-Afrika se landbou-uitvoere meer as 250-miljard-rand bereik. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief hervorming bly ‘n uitdaging in landbou, met swart boere wat tans omtrent tien-persent van kommersiële landbouprodukte produseer. Hy sê ook dat die land ‘n landbousektor moet hê wat verteenwoordigend en inklusief is.
# Die vakbond Giwusa eis die onmiddellike afdanking van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, oor ‘n advertensie vir werksgeleenthede deur sy departement. Die advertensie sluit glo Afrika-kandidate uit en gee voorkeur aan wit, bruin en Indiese werkers. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, veroordeel dit as diskriminasie en ‘n skending van billikheidswette. Hy dreig met regsoptrede as die saak nie binne sewe dae reggestel word nie:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê dis kommerwekkend dat dié provinsie sowat 26,5-persent tot Suid-Afrika se nasionale misdaadsyfers bydra. Tussen Oktober en Desember 2024 was daar ‘n geringe afname in misdade wat aangemeld is. Dit sluit in 4,7-persent vir kontakmisdade en 5,8-persent vir verkragting. Jaco Mulder van die VF Plus sê ongelukkig meld die publiek nie alle misdade aan nie omdat baie polisiekantore nie in staat is om dossiere vir sake oop te maak of te registreer nie:
# Sokker: Arsenal het weer punte verloor na hul gelykopstryd van een elk teen Manchester United. Mikel Arteta se span het nou 15 punte minder as die Premierliga-voorloper, Liverpool. United se kaptein, Bruno Fernandes, se vryskop is uitgekanselleer deur Declan Rice se doel in die 74ste minuut. Liverpool het in hul laaste nege wedstryde ʼn maksimum 16 punte nodig om die titel te wen. Arteta, wat in sy 200ste Premierliga-wedstryd in beheer was as hoofafrigter van Arsenal, sê hulle het nie hul kanse gebruik nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-973-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-906-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: President Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse dramaturg, akteur en regisseur Athol Fugard was ‘n buitengewone storieverteller en die morele gewete van ‘n geslag. Die 92-jarige is die naweek by sy huis in Stellenbosch dood. Sy bekendste werke sluit in Blood Knot, Sizwe Banzi is Dead, Tsotsi en The Road to Mecca. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die Fugard-teater in Kaapstad is ‘n gepaste huldeblyk vir ‘n man wie se lewe en werke ‘n onuitwisbare spoor gelaat het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….