Nuus 09:00
BULLETIN 10 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP wil hê die deportasie van ongedokumenteerde buitelanders moet verfyn word
# Israel sny Gaza se elektrisiteitstoevoer af
# En sokker: Bafana Bafana maak ‘n deurbraak in die Afrikanasies-kampioenskap
# Die IVP-leier Velenkosini Hlabisa sê wetgewing oor die deportasie van ongedokumenteerde immigrante moet hersien word. Hy het Sondag die hoofrede gelewer by die IVP in Gauteng se provinsiale raadsvergadering. Hlabisa sê hulle oorweeg om ‘n wetsontwerp by die Parlement in te dien om die proses om ongedokumenteerde buitelanders te deporteer, eenvoudiger te maak. Hy sê alhoewel hulle onwettige immigrante uit die land wil sit, is hulle nie xenofobies nie:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ontken mediaberigte dat 50 nieregeringsorganisasies ondersoek word vir terreurbefondsing en geldwassery. Dit kom te midde van toenemende kommer oor finansiële oorsig in die sektor sonder winsbejag. Die departement se woordvoerder, Bathembu Futshane, sê hulle het onlangs ʼn simposium aangebied om die sektor bewus te maak van Suid-Afrika se verpligtinge wat die instelling van maatreëls teen geldwassery en terreurfinansiering betref:
# Die elektrisiteitstoevoer na die laaste fasiliteit in Gaza wat steeds krag van die Israelse elektrisiteitskorporasie ontvang het, is afgesny – skynbaar om Hamas te noop om die eerste fase van die skietstilstand te verleng. Die stap raak nagenoeg 2,3-miljoen mense en die ontsoutingsaanlegte wat noodsaaklike drinkwater verskaf. Israel se minister van Energie, Eli Cohen, sê hulle doen alles moontlik om te sorg dat die gyselaars aan hulle uitgelewer word. Hamas beskuldig Israel van goedkoop en onaanvaarbare afpersing.
# Sokker: Suid-Afrika het na die laaste ronde van die Afrikanasies-kampioenskap se kwalifiseringsronde deurgedring deur Egipte in die Suez Kanaal -stadion in Ismailia met 3-1 te klop. Doele deur die kaptein, Neo Maema, Yandisa Mfolozi en ‘n strafdoel deur Siphelele Luthuli het Bafana Bafana se sege in die laaste van die tweederonde-uitspeelwedstryde verseker vir ‘n totaal van 4-2. Hulle het in die eerste ronde ‘n week gelede in Bloemfontein gelykop geëindig. Bafana Bafana speel volgende teen Malawi om te bepaal wie in Augustus in die CHAN-eindtoernooi in Kenia, Tanzanië, en Uganda sal speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-826-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-910-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-84-sent per vat.
# En ter afsluiting, die DA sê Athol Fugard se diepsinnige bydraes tot Suid-Afrikaanse teater en die vryheidstryd sal geslagte lank onthou word. Fugard wat in die Oos-Kaap gebore is en op 92-jarige leeftyd dood is, het in 1961 bekendheid verwerf met Blood Knot. ʼn DA-woordvoerder, Joe McGluwa, sê Suid-Afrikaners rou oor die letterkundige reus se dood:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….