Nuus 08:00
BULLETIN 10 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nege gemeentelede sterf in ‘n busongeluk
# Die kabinet is gereed om finale goedkeuring te gee vir die gewysigde begroting
# En Kanada se Liberale Party verkies Mark Carney as sy nuwe leier en eerste minister
# Nege lidmate van die Twelve Apostles Church in Trinity is Sondag in ‘n busongeluk op die N2 tussen Mandeni en Stanger in KwaZulu-Natal dood. ʼn Band het vermoedelik gebars wat veroorsaak het dat die bestuurder van die 82-sitplek-bus beheer verloor het. Die kerkgangers was ná ʼn diens op pad huis toe. ʼn Vierjarige kind is een van die oorledenes. ʼn Woordvoerder van die provinsiale Vervoerdepartement, Ndabezinhle Sibiya, sê 51 mense is beseer en na verskeie hospitale vervoer:
# Die kabinet gee moontlik vandag sy finale goedkeuring vir die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se hersiene begroting. Die minister sal sy begrotingsrede na verwagting Woensdag lewer. Die begrotingsrede is verlede maand uitgestel nadat die regering van nasionale eenheid nie eenstemmigheid kon bereik oor ʼn BTW-verhoging van twee persent nie. DA-leier John Steenhuisen sê sy party sal die begroting slegs steun as meer klem geplaas word op maniere om die ekonomie aan die groei te kry.
# Die voormalige sentrale goewerneur, Mark Carney, gaan Justin Trudeau as Kanada se eerste minister en leier van die Liberale Party opvolg. Die 59-jarige Carney wat 85,9-persent van die stemme gewen het, sal die Liberale na die algemene verkiesing lei wat teen Oktober moet plaasvind. Die gewese adjunk- eerste minister, Chrystia Freeland, is tweede met agt-persent van die stemme. Carney het in sy aanvaardingstoespraak president Donald Trump van Amerika se instelling van tariewe en herhaalde oproepe dat Kanada Amerika se 51ste staat word, gekritiseer:
# Rugby: Engeland het op Twickenham ʼn bonuspunt-oorwinning van 47-24 oor Italië behaal en is nou tweede op die Sesnasies-punteleer, een punt agter Frankryk. Die vleuel Ollie Sleightholme het twee keer oor die doellyn geduik en die Rooi Rose het sewe drieë gedruk teenoor Italië se drie. Frankryk is in die beste posisie om die titel op Super Saterdag te buit in hul wedstryd teen Skotland. Engeland en Ierland staan egter ook nog ʼn kans. Engeland se afrigter, Steve Borthwick, sê hy is tevrede met die prestasie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-14-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-912-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-72-sent per vat.
# En ter afsluiting, die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het hulde gebring aan Athol Fugard, en sê Suid-Afrika het een van sy grootste letterkundige en teater-ikone verloor. Die 92-jarige beroemde toneelskrywer, akteur, skrywer en regisseur is by sy huis in Stellenbosch dood. Minister McKenzie sê Fugard het baie van sy voorregte opgeoffer om die storie van Suid-Afrika se pyn onder apartheid dapper en eerlik te vertel. Hy voeg by sy werk het die kulturele en sosiale landskap van die nasie gevorm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….