Nuus 06:00
BULLETIN 10 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê geweldsmisdadigers het geen agting vir die lewens van Suid-Afrikaners nie
# Gholf: Die Skot Calum Hill wen die Johannesburgse Ope
# En die dramaturg Athol Fugard sterf op 92-jarige ouderdom
# President Cyril Ramaphosa sê geweldsmisdadigers het geen agting vir die lewens van Suid-Afrikaners nie, insluitend onbaatsugtige en sorgsame burgers wat bekend is vir hul bydraes om mense op te hef. Die president het sy leedwese betoon oor die grusame dood van die bekende mediese dokter en skrywer, Gomolemo Mokae, die fluitjieblaser en geslagsaktivis, Pamela Mabini, en Imam Muhsin Hendricks. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê dis alle burgers se wens dat wetstoepassingsagentskappe gewelddadige misdadigers aan die pen laat ry:
# Die Suid-Afrikaanse Olie- en Gas-alliansie vra optrede oor Eskom se steenkoolaangedrewe kragstasies, wat steeds beurtkrag veroorsaak. Eskom het oor die naweek fase 3-beurtkrag ingestel weens die verlies aan Kusile-eenhede. Eskom bevestig pogings om die uitdagings te pak om die netwerkprestasie te verbeter en reserwes aan te vul. Die voorsitter van die alliansie, Craig Morkel, maan dat die verlenging van hierdie ou aanlegte nie toekomstige kragonderbrekings sal keer nie, wat die groei van die ekonomie kan strem.
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, verwelkom die Nasionale Rampbestuursentrum se verklaring van ‘n nasionale ramptoestand. Dit volg op ontwrigtende weer wat skade van 3,1-miljard-rand aangerig en 22 mense se dood veroorsaak het. Die LUR se woordvoerder Senzelwe Mzila sê die verklaring laat gekoördineerde verligtingspogings en die heropbou van infrastruktuur toe. Hy vra mense om waaksaam te bly omdat nog reën dié week verwag word:
# Johannesburg verwelkom die stigting van die Presidensiële Johannesburg-werksgroep na president Cyril Ramaphosa se tweedaagse oorsigbesoek aan Gauteng. Die inisiatief, aangevoer deur die burgemeester Dada Morero, wil oor ‘n tydperk van twee jaar infrastruktuur, dienslewering en finansiële uitdagings pak. Die groep sal fokus op bestuur, energie, veiligheid, stedelike vernuwing en behuising. Ramaphosa het beklemtoon die herlewing van Johannesburg hou die sleutel tot Suid-Afrika se toekoms.
# Gholf: Calum Hill van Skotland het met ‘n agt onder baansyfer eindronde van 62 as oorwinnaar ná ‘n driehoekige uitspeelstryd die Johannesburgse Ope by die Houghton Gholfklub gewen. Hill en Suid-Afrika se Jacques Kruyswijk en Shaun Norris het baansyfer op die eerste uitspeelputjie behaal. Norris het sy tweede skoot in die water laat beland, Hill het baansyfer behaal, terwyl Kruyswijk een oor baansyfer aangeteken het en die Skot gewen het. Hill, wat nou twee DP World-toertitels gewen het, sê die uitspeelstryd was intens:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-560-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde Suid-Afrikaanse dramaturg, skrywer, akteur en regisseur Athol Fugard is op 92-jarige ouderdom oorlede. Sy werke, wat apartheid uitgedaag en onreg aan die kaak gestel het, sluit in Master Harold, Blood Knot, Hello and Goodbye, en The Road to Mecca. Fugard se roman Tsotsi is verwerk in ‘n rolprent wat in 2006 ‘n Oscar gewen het vir beste vreemdetaalfilm. In 2011 het hy die kroon gespan toe die wêreld se gesogste teatergemeenskap aan hom ‘n Tony vir Lewenslange Prestasie in Teater toegeken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….