Nuus 09:00
BULLETIN 7 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party en ATM sluit ‘n samewerkingsooreenkoms
# Die DA sê die titelaktes van swart opkomende boere moet voorrang geniet
# En Donald Trump onderteken ‘n bevel om die Kanada- en Mexiko-tariewe uit te stel
# Die MK-party en die African Transformation Movement het ingestem om saam te werk aan alle gemeenskaps- en parlementêre programme en bedrywighede. Die ooreenkoms volg op ‘n vergadering in Durban tussen die voormalige president en MK-leier Jacob Zuma en sy ou vriend en befondser van ATM Caesar Nongqunga. MK het 14.58-persent steun in die 2024-verkiesing gekry, terwyl ATM net 0,4 gekry het. Die woordvoerder van ATM, Zama Ntshona, sê hulle vertrou dat die partye kan saamwerk sonder om hulle identiteit te verloor of gederegistreer te word:
# Die DA in die Wes-Kaap vra die regering van nasionale eenheid om voorkeur te gee aan die uitreiking van titelaktes vir opkomende swart boere. Baie van die boere, insluitend die Vaalkuil-boerdery, ondervind langtermyn-volhoubaarheidsuitdagings weens ‘n gebrek aan grondeienaarskap, wat toegang tot finansiering verhoed en groei temper. Die party steun die staande komitee se besluit om die kwessie voorop te stel en sal voortgaan om hom te beywer vir hervormings aan die oordrag van titelaktes. Woordvoerder Noko Masipa sê dit sal boere toelaat om finansiering te bekom:
# Die Raadgewende Ingenieursorganisasie van Suid-Afrika sê beleidshervorming moet doeltreffend ingestel word om die land se infrastruktuuruitdagings aan te spreek. Die raad se hoof- uitvoerende beampte Chris Campbell het in aanloop tot die infrastruktuurindaba wat van 18 tot 19 Maart plaasvind, beklemtoon dat swak toepassing, die tekort aan tegniese kundigheid en korrupsie vooruitgang belemmer. Campbell vra vir strenger toepassing van die betalingsbeleid, beter opleiding van amptenare, en sterker vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor. Hy vra vir onmiddellike optrede om verdere infrastuktuurverbrokkeling te voorkom, en bepleit verantwoordelikheid en beter bestuur op alle vlakke.
# President Donald Trump van Amerika het ‘n uitvoerende bevel onderteken wat die tariewe van 25-persent op goedere uit Mexiko en Kanada tot 2 April uitstel. Die vertraging om die tariewe in te stel is van toepassing op goedere onder Noor-Amerika se vryhandelsverdrag, die ooreenkoms tussen Amerika, Kanada en Mexiko, wat Trump tydens sy eerste termyn onderteken het. Trump sê die ommekeer het niks te doen met die afgelope dae se woelinge op die aandelemark nie. Hy sê die tariewe se instelling sal nie verder vertraag word nie.
# Sokker: Manchester United en Real Sociedad is gelykop met een elk in die eerste deel van hulle Europa-liga se laaste-16-wedstryd. Joshua Zirkzee se doel in die tweede helfte is uitgekanselleer deur Mikel Oyarzabal se strafskop. Tottenham Hotspur het met 1-0 verloor teen AZ Alkmaar deur Lucas Bergvall se eie doel. Rangers het Jose Mourinho se Fenerbahce geskok met ʼn 3-1-sege. United se bestuurder, Ruben Amorim, sê hulle is gereed vir volgende Donderdag se kragmeting op tuisgrond by Old Trafford:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-140-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-906-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar-3-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….