Nuus 07:00
BULLETIN 7 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa loof Microsoft se verbintenis met Suid-Afrika
# Volodymyr Zelensky sê Oekraïners wil vrede hê, maar nie ten koste van hul land nie
# En gholf: Wenyi Ding van China en Jordan Smith van Engeland loop voor in die Johannesburg Ope
# President Cyril Ramaphosa sê kunsmatige intelligensie se herskeppende potensiaal kan nie onderbeklemtoon word nie en die wêreldgemeenskap is gretig om die geleenthede te gebruik wat dit bied. Die president het in Johannesburg die hoofrede gelewer by Microsoft se aankondiging oor beleggings en KI-vaardigheid. Die maatskappy wil KI-infrastruktuur en vaardigheidsontwikkeling in die land uitbrei. Ramaphosa sê Microsoft se toewyding aan Suid-Afrika en Afrika is stewig, betroubaar en indrukwekkend:
Microsoft se president en ondervoorsitter, Brad Smith, sê intussen Suid-Afrika se regering moet kunsmatige intelligensie in sy toepassings gebruik omdat dit groei in die tegnologiebedryf kan bevorder. Die maatskappy belê meer in die land en fokus veral op belegging in kunsmatige intelligensie-infrastruktuur. Smith sê Microsoft sal nog 5,4-miljard-rand in Suid-Afrika belê, bykomend tot die 20,4-miljard wat die maatskappy reeds hier belê het:
# Die DA eis onverwylde optrede teen ses-duisend regeringswerkers wat na bewering tydens die Covid 19-pandemie onregmatig tydelike verligtingstoelaes geëis het. Dit volg nadat die Spesiale Ondersoekeenheid bekendgemaak het dat die amptenare 350-miljoen rand ontvang het, terwyl hul salarisse steeds betaal is. Leah Potgieter van die DA vra ook vir ‘n ondersoek om vas te stel of amptenare van die Werkloosheidsversekeringsfonds by die bedrog betrokke was.
# Johannesburg se Artikel 79 Finansiële Komitee het ‘n beleid aanvaar wat openbare voorleggings verwelkom, en deursigtigheid en aanspreeklikheid verbeter. Die voorsitter van die komitee, Mpumi Edward, sê sleutelprioriteite sluit in IKT-transformasie, regverdige inkomste-invordering en verantwoordbare finansiële bestuur. Die komitee doen ‘n beroep op inwoners en besighede om bekommernisse te rapporteer, om te verseker dat finansiële besluite belyn word met gemeenskapsbehoeftes. Sy het die verbintenis herbevestig om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou, terwyl dienste, infrastruktuur en lewensgehalte vir alle inwoners van die stad verbeter word.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het Rusland gevra om ‘n ooreenkoms te sluit om gevangenes vry te laat om vertroue te skep vir toekomstige vredesonderhandelings. Hy het Donderdag met Europese leiers in Brussel vergader. Zelensky sê op X enige wapenstilstand of maatreëls om vertroue te bou, kan dien as voorspel tot ʼn volle en regverdige skikking, ʼn omvattende ooreenkoms oor sekerheidswaarborge en ʼn einde aan die oorlog. Hy sê Oekraïners wil regtig vrede hê, maar wil nie hul land weggee nie.
# Gholf: Wenyi Ding van China en Jordan Smith van Engeland het met rondes van sewe onder baansyfer 63 geopen en loop saam voor in die Johannesburg Ope by die Houghton-gholfklub. Hulle is een hou voor die Suid-Afrikaners Malcolm Mitchell en Jayden Schaper, Marco Penge en Callum Tarren van Engeland en die Duitser, Nicolai Von Dellingshausen. Smith, wat weens beserings weke lank nie kon speel nie, sê hy is tevrede met sy begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-499-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-903-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….