Nuus 17:00
BULLETIN 5 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika striem Israel se versperring van humanitêre hulp aan Gaza
# Borgtog word verleng vir ‘n Oos-Kaapse vrou wat na bewering beplan het om haar man te vermoor in ‘n kamma-plaasaanval
# En krieket: Die Proteas jaag ‘n reuse-wenteiken in die Kampioenetrofee-halfeindstryd teen Nieu-Seeland
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het uitgevaar teen Israel se weiering om humanitêre hulp aan Gaza toe te laat, en sy voortgesette militêre optrede aan die Wesoewer. Die departement sê dit kom neer op ‘n skending van internasionale reg, en wys op die moontlikheid van verhongering as oorlogswapen en die gedwonge verskuiwing van Palestyne. Hulle steun die Arabiese Liga se oproep vir ‘n vredesmag van die Verenigde Nasies om bestendigheid in Gaza en die Wesoewer te verseker.
# Die Landdroshof in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap het die saak uitgestel teen ‘n vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar man se moord in ‘n kamma-plaasaanval beplan het. Die aanklaer het die uitstel versoek weens uitstaande verklarings, foto-albums en selfoonrekords. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Luxolo Tyali, sal die saak teen die 46-jarige Anelle de Bruin op 23 April hervat nadat haar borgtog van twee-duisend-rand verleng is:
# Twee van die beskuldigdes in die verdwyning van die Weskus-meisie, Joslin Smith, beweer die polisie het hulle gedwing om te bieg. Jacquin Appollis en Steveno van Rhyn staan tereg saam met Joslin se ma, Kelly Smith. Die mans ontken egter dat hulle ooit by die beweerde misdaad betrokke was. Hulle regsverteenwoordigers het in die Hooggeregshof wat in Saldanhabaai sit, gesê die polisie het hul kliënte gemartel en hulle het erken dat hulle Joslin verkoop het omdat hulle vir hul lewens gevrees het. Die drie word aangekla van ontvoering en mensehandel.
# Die Vrystaatse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Jabu Mbalula, eis strenger padveiligheidswette nadat ‘n busongeluk op die N6 naby Reddersburg vanoggend vroeg tien lewens geëis het. Die meeste slagoffers was vroue. Die oorsaak bly onbekend. Mbalula beklemtoon die behoefte aan verbeterde padveiligheid om sulke verwoestende voorvalle op Suid-Afrika se paaie te voorkom:
# Krieket: Die Proteas jaag ‘n reuse-wenteiken van 363 in hulle Kampioenetrofee-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Lahore, Pakistan. Die Swartpette het gekies om eerste te kolf en Rachin Ravindra en Kane Williamson het hulle beurt geanker met honderdtalle. Die gewoonlik ekonomiese Marco Jansen is veral gestraf en het 79 lopies afgestaan in sy tien boulbeurte, terwyl Lungi Ngidi drie paaltjies geneem het en Kagiso Rabada twee. Nieu-Seeland het geëindig op 362 vir ses. Vandag se wenner speel Sondag teen Indië in die eindstryd in Dubai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-862-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-912-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….