Ekominuut - 13.30
BULLETIN 5 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Twee leeuwyfies wat in die Addo-olifantpark naby Gqeberha losgelaat is, is nou in die wildkykgebied te sien. Die twee-en-‘n-half-jaar oue susters wat in Desember van die !Khamab Kalahari-park gebring is, verleen sterk genetiese verskeidenheid aan die park se leeubevolking. SANParke sê die twee sal navorsers help met die nasporing van habitatgebruik, interaksie met roofdiere en prooispesies. Die loslating is deel van ‘n bewaringspoging om leeubevolkings te bestuur en ekologiese bestendigheid in die park te behou.
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal het ‘n toelaag van 46,5-miljoen-rand van die Nasionale Instituut vir Gesondheid- en Sorgnavorsing ontvang om ʼn baanbrekende waarskuwingstelsel vir uiterste weerstoestande in Suid-Afrika te ontwikkel. Die instelling werk saam met die Universiteit van die Weste van Skotland, die Royal College of Surgeons in Ierland en die Universiteit van Portsmouth in Engeland. Die projek wil kwesbare gemeenskappe en gesondheidstelsels se weerstand teen klimaatverwante rampe soos oorstromings en gepaardgaande gesondheidsgevare versterk.
# En ten slotte: Lande wat die vergadering van die tussenregeringspaneel oor Klimaatsverandering bywoon kon nie ‘n tyd bepaal vir die Verenigde Nasies se volgende klimaatsveranderingsevaluering nie. Die meeste regerings is ten gunste van die paneel se voorstel om die wetenskaplike hersieningsproses teen Augustus 2028 af te handel. China, Saoedi-Arabië en Indië is egter sterk gekant teen die tydlyn terwyl Suid-Afrika en Kenia gevra het vir verdere besprekings om kommer oor die inklusiwiteit van die proses te oorbrug.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….