Nuus 06:00
BULLETIN 5 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering sê ‘n positiewe groei in die BBP is bemoedigend
# Israel sê humanitêre hulp het ‘n hoofbron van inkomste vir Hamas geword
# En krieket: Indië klop Australië en dring deur na die eindstryd van die Kampioenetrofee
# Die regering sê die jongste bruto binnelandse produk-data van Statistiek Suid-Afrika is bemoedigend en dui op ‘n welkome herstel. Die land se BBP het in die vierde kwartaal van 2024 met 0,6-persent gestyg, ná ‘n afname van 0,1-persent in die derde kwartaal van 2024. Die groei is hoofsaaklik aangedryf deur die landbou-, finansiële en handelsektore. Die regering sê een van sy onmiddellike prioriteite is om positiewe ekonomiese groei te verseker, wat sake-ontwikkeling sal aanmoedig en meer werksgeleenthede sal bied.
ActionSA het intussen die vennote van die regering van nasionale eenheid uitgedaag om die ANC se afhanklikheid van mislukte ekonomiese beleid te verbreek. Alan Beesley van ActionSA sê Suid-Afrika se ekonomie is steeds ver onder die gemiddeld van ontluikende markte, terwyl werkloosheid op 41,9-persent bly. Hy bepleit dringende hervormings, insluitend belastingveranderings en pro-groeibeleid, om verdere ekonomiese agteruitgang te voorkom en beleggersvertroue te herstel:
# Die adjunkminister van Maatskaplike Ontwikkeling, Ganief Hendricks, het organisasies sonder winsbejag gevra om Suid-Afrika te help om teen die einde van die jaar van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys verwyder te word. Hy het op ‘n geleentheid vir belanghebbendes in Kemptonpark gewaarsku teen die oorregulering van NRO’s en ook beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om die reëls teen geldwassery na te kom. ‘n Nasionale opname het bevind sekere NRO’s hou ‘n mate van gevaar in vir terreurbefondsing. Die taakmag sal Suid-Afrika se vordering in September beoordeel.
# Die Pretoria-Noord Streekhof het ‘n 69-jarige vrou tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir meineed, bedrog en diefstal. Sarathamoney Devi Sigamoney het bedrog teen SASSA gepleeg terwyl sy die hoof was van ‘n maatskappy wat SAPD-tenders van 88-miljoen gewen het. Sy het op bedrieglike wyse 123-duisend-rand in SASSA pensioenuitbetalings ontvang en beweer sy het 20 jaar lank nie gewerk nie. Henry Mamothame van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie sê Sigamoney moet 138-duisend-593-rand met rente terugbetaal:
# Israel se minister van Buitelandse Sake, Gideon Saar, beweer humanitêre hulp het die nommer een-inkomstebron van Hamas geword, terwyl hy sy regering se besluit verdedig om alle hulpverlening aan Gaza te versper. Die hoof van die Verenigde Nasies se Agentskap vir Palestynse Vlugtelinge, Philippe Lazzarini, sê dit bedreig die lewens van burgerlikes wat uitgeput is deur die oorlog van 16-maande. Israel het Sondag aangekondig hy gaan hulp afsny ná onderhandelings ‘n skaakmat bereik het. Saar sê Hamas gebruik die hulp om sy operasies teen Israel te befonds.
# Krieket: Indië is deur na hul derde agtereenvolgende Kampioenetrofee-eindstryd nadat hulle Australië met vier paaltjies in Dubai verslaan het. Australië is uitgeboul vir 264, met kaptein Steve Smith wat 73 aangeteken het en Alex Carey 61. Mohammed Shami het drie paaltjies laat val. Virat Kohli se 84 van 98 balle het Indië gehelp om die teiken te bereik met elf balle oor. Indië speel Sondag teen Nieu-Seeland of Suid-Afrika, wat vandag in Lahore in die tweede halfeindstryd kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-339-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-916-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….