Nuus 18:00
BULLETIN 4 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SALGA stel ‘n BTW-nulkoers voor op noodsaaklike items soos water en krag
# Duitsland wil weer diensplig instel namate Europa onveiliger word
# En die SA Ope gaan in 2026 op die Stellenbosse Gholfklub beslis word
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging stel ‘n BTW-nulkoers voor op noodsaaklike items soos water en krag. Sabelo Gwala van SALGA sê die belasting op luukse goedere sal regeringsinkomste verhoog en hy stel ‘n aangepaste BTW-benadering voor. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal volgende Woensdag sy hersiene begroting indien na verskille oor ‘n moontlike verhoging in BTW. Gwala waarsku dat ‘n algemene BTW-verhoging ernstige gevolge sal hê:
# Save South Africa het die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, gekritiseer oor die versuim om ‘n verduideliking te verskaf oor die verspreiding van 500-miljoen-rand aan spazawinkel-eienaars. Die beweging eis dat die fondse aan Suid-Afrikaanse entrepreneurs gegee moet word en veroordeel die buitelandse eienaarskap van spazawinkels. Die woordvoerder, Tebogo Mashilompane, kritiseer ook die regering se swak hantering van die registrasieproses en waarsku teen korrupsie:
# Solidariteit het ‘n hulpprojek van stapel gestuur om werkers by te staan wat deur die sluiting van ArcelorMittal se langstaal-aanlegte geraak word. Die sluiting van aanlegte in Newcastle in KwaZulu-Natal, Vereeniging in Gauteng en eMalahleni in Mpumalanga is verlede Vrydag bevestig, ondanks onderhandelings wat ‘n maand lank geduur het. Afleggingsgesprekke is byna afgehandel. Willie Venter van Solidariteit kritiseer die regering dat hy te laat ingegryp het en die maatskappy dat hy nie sy aanlegte vroeër gemoderniseer het nie:
# Die konserwatiewes in Duitsland, wat die volgende regering gaan lei, sê die land moet vinnig weer verpligte militêre diensplig instel. Die hoof van die CDU/CSU-blok wat verlede maand die verkiesing gewen het, Friedrich Merz, het aangevoer Europa moet sy eie veiligheid verbeter in die era van Amerikaanse president, Donald Trump. Die woordvoerder van sy middel-regse alliansie oor verdedigingsbeleid, Florian Hahn, sê Duitsland se opskorting van diensplig is nie meer geskik vir die huidige bedreigings nie. Hy sê hulle kan nie net toekyk hoe die wêreld om hulle onveiliger word nie.
# Gholf: Die 115de Suid-Afrikaanse Ope gaan volgende jaar op die Stellenbosse Gholfklub beslis word. Die Wes-Kaap se vierde oudste klub sal einde Februarie die tweede keer in sy geskiedenis die toernooi aanbied. Die klub het die SA Ope in 1999 aangebied toe die plaaslike gunsteling, David Frost, gewen het op die baan waar hy groot geword en as sy pa se joggie diens gedoen het. Die hoofbestuurder, Chris van der Merwe, sê die klub is verheug om die SA Ope op sy baan te verwelkom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-815-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….