Nuus 16:00
BULLETIN 4 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die hoogverraad-klagte teen AfriForum ondermyn demokrasie en spraakvryheid
# Die Amerikaanse regering oorweeg die opskorting van kontrakte met die Universiteit Columbia weens anti-Semitisme
# En tennis: Murray gaan Djokovic weer in Amerika afrig
# Die Vryheidsfront Plus sê die klagte van hoogverraad wat die Valke teen AfriForum ondersoek, is ongeregverdig en polities gemotiveerd. Die party voer aan die ANC, en nie AfriForum nie, moet ondersoek word vir sy rol in staatskaping, wat Suid-Afrika skade berokken het, insluitend die jarelange misleiding van die publiek. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê spraakvryheid en deursigtigheid is noodsaaklik, en hy doen ‘n beroep op die wêreld om hulle te vergewis van die ware toedrag van sake in Suid-Afrika.
# Privaat ondernemings kritiseer die Suid-Afrikaanse Poskantoor dat hy nie die vermoë het om aan te pas nie. Dit volg nadat die Departement van Kommunikasie die Tesourie se ondersteuning versoek het vir ‘n taakspan om vennote te vind vir ‘n openbare-privaat vennootskap. Kritici glo die Poskantoor se toekoms hang af van sy vermoë om by die digitale wêreld aan te pas. ‘n Onafhanklike ontleder, Khaya Sithole, het aan SABC News gesê die Poskantoor het nie daarin geslaag om homself te vernuwe nie:
# Die DA sê hy gaan môre die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens in die Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid uitvra oor die voortslepende teengifkrisis wat na berigte reeds tot sterftes gelei het. Die party sal duidelikheid eis oor hoeveel teengif sedert 2023 vervaardig en versprei is. Die DA-lid, Michele Clarke, sê die diens moet rekenskap gee van die aangetekende tekorte in hospitale en wat gedoen word om die probleem uit die weg te ruim:
# Die Amerikaanse regering sê hy oorweeg dit om kontrakte ter waarde van meer as 928-miljoen-rand met die Columbia-universiteit in New York te skrap oor bewerings dat die instelling nie daarin geslaag het om Joodse studente te beskerm nie. Die gesogte Ivy League-universiteit was verlede jaar in ‘n stryd gewikkel oor bewerings van anti-Semitisme, wat ontketen is deur kampusbetogings teen Israel se oorlog in Gaza. Sommige Joodse studente en veldtog-groepe het gesê Joodse studente is geïntimideer en owerhede het nie opgetree om hulle te beskerm nie.
# Tennis: Andy Murray het hom by nog ‘n voomalige wêreld-nommer-een, Novak Djokovic, in Amerika aangesluit om die Serwiër te help met sy voorbereiding vir die Indian Wells Ope. Die afgetrede Brit was ook in Djokovic se kamp tydens die Australiese Ope in Januarie toe hy tydens die halfeindstryd beseer is. Sy enigste wedstryd sedertdien was in die Katarse Ope in Doha toe hy in die eerste ronde uitgeskakel is. Djokovic beplan om die eerste keer sedert 2019 aan die Sonskyn-dubbel – Indian Wells en die Miami Ope – deel te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-620-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-920-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….