Goeie Nuus
BULLETIN 4 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die mark vir moderne kuns beleef ongekende groei terwyl beleggers afwisseling en alternatiewe bates soek. Navorsing deur Horizon Grand View Research toon dat die Suid-Afrikaanse kuns-toerismemark tussen 2025 en 2030 jaarliks met 3.9-persent kan groei met galerye en museums wat die grootste deel van die mark uitmaak. Aspire Art se uitvoerende hoof, Marelize van Zyl, het aan die SABC gesê kuns verander vinnig in ‘n aantreklike geleentheid vir waardevermeerdering en kulturele betekenis:
# ‘n Professor aan die Universiteit van Pretoria, De Wet Swanepoel, sê die erkenning wat hy van die Amerikaanse Akademie van Oudiologie ontvang het beklemtoon die noodsaaklikheid om gehoor toeganklik te maak vir almal. Hy het die Internasionale Gehoortoekenning ontvang vir sy navorsing om mobiele gehoorsorg aan behoeftige gebiede beskikbaar te stel. Swanepoel is die medestigter van die digitale gesondheidsmaatskappy hearX Group. Slegs twee persent van mense in Afrika wat gehoortoestelle benodig, kry dit uiteindelik. Die universiteit sê Swanepoel se erkenning open deure en nuwe geleenthede vir internasionale samewerking.
# Die Stad Kaapstad het beurse aan 26 doelgedrewe mense toegeken as deel van ‘n program om die leemte vir skaars vaardighede te vul deur navorsing in noodsaaklike studievelde te ondersteun. Die studievelde sluit in Rekeningkunde, Rekenaarwetenskap, Inligtingstegnologie en -stelsels, verskeie Ingenieursvelde, Regstudies en Stedelike Beplanning. Die metro sê hy het tans 17 eksterne beurshouers in altesaam agt fases van hul kursusse, en die bykomende 26 nuwe kandidate skuif die getal op tot altesaam 43 beurshouers.
# ‘n Eerstejaar BA-student aan die Sol Plaatje-universiteit, Abel Mokwena, het sy buiging gemaak vir die Northern Cape Heats–krieketspan. Die Noord-Kaap se beroepspan ding mee op Vlak-2 van Krieket Suid-Afrika se 50-boulbeurtformaat wat die streek se beste talent ten toon stel. Die universiteit sê Mokwena se prestasie is ‘n mylpaal wat die instelling se toegewydheid benadruk om sporttalent te ontwikkel en so tot die groter sportlandskap in die provinsie by te dra.
# En ten slotte: Simone Biles, Max Verstappen en Carlos Alcaraz is vir die Laureus-wêreldsporttoekennings benoem. Biles, die wêreld se mees bekroonde gimnas, is benoem as sportvrou van die jaar saam met tennis se wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, en die atleet Sydney McLaughlin-Levrone. Die viermalige Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, tennis-ster Carlos Alcaraz, en Olimpiese paalspringkampioen, Mondo Duplantis, is benoem as sportman van die jaar. Amerika se nasionale mans-basketbalspan en die F1-span, McLaren, is benoem as span van die jaar.