Ekominuut 13:30
BULLETIN 4 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Tshwane waarsku boere om waaksaam te bly te midde van die uitbreking van Afrika-kommandowurm. Die plaag wat berug is vir sy vernietigende vreetgewoonte, kom hoofsaaklik voor op graslande en in sekere savanna-streke, en bedreig oeste en weivelde. Die metro sê veeboere moet ook versigtig wees aangesien sommige grassoorte soos kikoejoe ‘n giftige chemiese stof vrystel wanneer die wurm dit aanval. Die lewensduur van die Afrika-kommandowurm van eierstadium tot volwasse mot is tussen een en drie maande.
# Afrika Suid van die Sahara aanvaar toenemend natuurlike oplossings om gevare weens klimaatverandering – soos droogtes – te bekamp. ‘n Verslag deur die Wêreldhulpbroninstituut, die Wêreldbank en die Afrika-Ontwikkelingsbank het sowat 300 projekte ontleed wat ten doel het om bedreigde woude, vleilande en koraalriwwe te beskerm. Ondanks 23-persent meer befondsing, bly beleggings steeds baie laer as die behoeftes. Die Groen-grys-infrastruktuurversneller is bekendgestel om nóg elf stede regoor die streek te ondersteun deur natuurlike oplossings met tradisionele infrastruktuur te integreer.
# En, wetenskaplikes waarsku die wêreld se sterkste seestroom, die Antarktiese Ringstroom, vloei stadiger weens klimaatsverandering. Die stroom, wat kloksgewys vloei, is vier keer sterker as die Golfstroom en verbind die Atlantiese, Stille en Indiese Oseaan. Volgens ʼn Australies-geleide studie kan die seestroom teen 2050 20-persent stadiger vloei, wat ys in Antarktika vinniger sal laat smelt en seevlakke sal laat styg. Die medeskrywer, Taimoor Sohail, sê gesamentlike pogings om aardverwarming te beperk, sal ys in Antarktika stadiger laat smelt en keer dat die stroom stadiger vloei.