Nuus 09:00
BULLETIN 4 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Weermag veroordeel video’s wat dit as ongeorganiseerd en swak gedissiplineerd uitbeeld
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra vir meer fondse vir die Polisie, SANW en Gesondheid
# En rugby: Die Shimlas, Arende, Maties en Ikeys wen hul wedtryde in die 3de ronde van die Varsitybeker
#Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê hy het die reeks videos gesien met misleidende inhoud oor die mag wat op verskeie platforms soos ‘n veldbrand versprei het. Die videos beeld die weermag uit as ongeorganiseerd en swak gedissiplineerd. Prince Tshabalala van die weermag sê die propaganda-video’s het ook ten doel om die land se toegewyde beroepsweermaglede te demoraliseer.
# Die Vereniging van Staatsamptenare maan die regering om voorkeur te gee aan nasionale sekerheid deur die begrotingstoekenning vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Polisie, Gesondheid en ander noodsaaklike departemente te verhoog. Dit volg nadat die luitenant-generaal, Peter Ntshavheni Maphaha van die SANW onlangs swakplekke uitgelig het wat weens onvoldoende grensbeskerming veroorsaak is en Suid-Afrikaners aan nasionale bedreigings blootstel. Claude Naiker van die vereniging sê sonder dringende ingryping bly die land se vermoë om sy grense en landsburgers te beskerm, ernstig in gevaar:
# Die DA in die Oos-Kaap sê hy het ‘n dossier met verslae aan die Spesiale Ondersoekeenheid oorhandig. Die verslae handel oor vermeende finansiële wanbestuur, inmenging by kontrakte en korrupsie in die provinsiale Departement van Menslike Nedersettings en plaaslike munisipaliteite. Chantel King van die DA sê die verslae fokus op die versuim om meer as 25-miljoen-rand se gesertifiseerde eise in Matatiele en O.R. Tambo te betaal, wat veroorsaak het dat HOP-huisprojekte tot stilstand gekom het:
# President Cyril Ramaphosa gaan vandag met sy Mosambiekse eweknie, Daniel Chapo, in sy kantoor in Kaapstad vergader. Chapo, wat die verkiesing met 65-persent van die stemme gewen het, is verlede maand ingehuldig en sit daarmee die Frelimo-party se bewind van 49 jaar voort. Die presidensie sê die doel van president Chapo se besoek is om politieke samewerking op bilaterale- en streeksvlak, asook op die vasteland te verstewig. Mosambiek is een van Suid-Afrika se top vyf uitvoerlande.
# Rugby: Die verdedigende kampioene van die Vrystaatse Universiteit, die Shimlas, het opeenvolgende oorwinnings behaal toe hulle die Universiteit van Johannesburg met 49-45 geklop het in die derde ronde van die Varsity-beker. Die Universiteit van die Witwatersrand wat nog geen seges behaal het nie, het met 39-34 naelskraaps teen die Noordwes-Universiteit se Arende verloor. Die Maties van Stellenbosch het die Sentrale Universiteit van Tegnologie met 54-nul afgeransel. Die Universiteit van Pretoria se Tuks het hul eerste nederlaag van die seisoen gelei toe die Ikeys van Kaapstad hulle met 36-29 verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-860-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-888-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….