Nuus 07:00
BULLETIN 4 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zweli Mkhize sê ‘n BTW-verhoging moet die laaste uitweg wees
# Die USAID-besnoeiings sluit Indië se eerste klinieke vir transgender mense
# En Simone Biles en Max Verstappen is benoem vir Laureus-toekennings
# Die parlementêre komitee oor Samewerkende Regering se voorsitter, Zweli Mkhize, sê ‘n verhoging in BTW moet slegs ʼn laaste uitweg wees. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede is verlede maand uitgestel nadat talle kabinetsministers gekant was teen ʼn BTW-verhoging van twee persentasiepunte. Mkhize sê ʼn BTW-verhoging sal die armes die swaarste tref en munisipaliteite sal meer inkomste verloor:
Mkhize het ook kommer uitgespreek omdat die meeste munisipaliteite nie betalingsooreenkomste met grootmaatdiensverskaffers soos Eskom en waterrade nakom nie. Munisipaliteite skuld Eskom altesaam 94-miljard-rand, en een van die grootste oortreders is die Maluti-a-Phofung Munisipaliteit in die Vrystaat wat nege-miljard-rand skuld. Mkhize sê die enorme Eskom-skuld word toegeskryf aan swak stelsels vir inkomste-invordering:
# COSATU betoog vandag voor die Noord-Gautengse Hooggeregshof om die Departement van Gesondheid te ondersteun in die Nasionale Gesondheidsversekering-saak. Die Raad van Gesondheidsorgfondse en die Suid-Afrikaanse Privaatpraktisynsforum betwis die grondwetlikheid van die NGV-wet. Vandag se verhoor sal bepaal watter hof die jurisdiksie het, nadat die regering aangevoer het die saak moet in die Konstitusionele Hof aangehoor word.
# Die Landdroshof in Mamelodi, Tshwane, het beslis dat die Nasionale Vervolgingsgesag die koste van AfriForum se privaat vervolgingseenheid moet betaal nadat Irvin Ngobeni skuldig bevind is aan aanranding op sy buurvrou, Nthabiseng Sebothoma. Ngobeni is ‘n opgeskorte vonnis van drie maande opgelê. Gerrie Nel van AfriForum beskryf die uitspraak as ‘n mylpaal en wys op die NVG se versuim om geslagsgeweldsake te vervolg:
# Indië se eerste mediese kliniek vir transgender mense het werksaamhede in drie stede gestaak nadat president Donald Trump buitelandse hulp opgeskort het. Die klinieke het MIV-behandeling, genderbevestigende steun en beradingdienste vir duisende transgender mense gebied. Trump se streng optrede met USAID het tientalle programme reg oor die wêreld geraak. In Indië het dit die transgendergemeenskap se toegang tot noodsaaklike mediese steun belemmer. ‘n Personeellid het aan die BBC gesê die klinieke het sowat ses-duisend mense behandel en omtrent ses- tot agt-persent van die pasiënte het MIV-behandeling ontvang.
# Laureus-toekennings: Simone Biles, Max Verstappen en Carlos Alcaraz is vir die Laureus-wêreldsporttoekennings benoem. Biles, die wêreld se mees bekroonde gimnas, is benoem as sportvrou van die jaar saam met tennis se wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, en die atleet Sydney McLaughlin-Levrone. Die viermalige Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, tennis-ster Carlos Alcaraz, en Olimpiese paalspringkampioen, Mondo Duplantis, is benoem as sportman van die jaar. Amerika se nasionale mans-basketbalspan en die F1-span, McLaren, is benoem as span van die jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-178-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-884-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….