Nuus 18:00
BULLETIN 3 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke bevestig ‘n hoogverraad-ondersoek oor waninligting
# ‘n Gewese Johannesburgse onderwyser verskyn in die hof op geskiedkundige aanklagte van molestering
# En rugby: Die Bulle se beseringslys word al langer
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het bevestig die Nasionale Vervolgingsgesag ondersoek tans vier sake van hoogverraad in verband met die verspreiding van misleidende inligting. Lebeya het teenoor SABC geweier om die organisasies se name te noem. Hy het wel genoem dit behels sekere individue wat moontlik die grense oorgesteek het om hierdie waninligting te versprei. Die Solidariteits-beweging, wat AfriForum insluit, het onlangs ‘n afvaardiging gestuur om met die Trump-administrasie te vergader. Lebeya sê die NVG sal besluit oor moontlike inhegtenisnemings:
Die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het AfriForum intussen gekritiseer oor sy optrede in Amerika. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het kommer uitgespreek oor die grondonteieningswette in Suid-Afrika. Madonsela het aan Newzroom Afrika gesê AfriForum se optrede is moreel veragtelik:
# ‘n Gewese onderwyser van St John’s Preparatory School in Johannesburg is borgtog van tien-duisend-rand toegestaan tydens sy eerste verskyning in die plaaslike Landdroshof op geskiedkundige aanklagte van seksuele aanranding en voorbereiding. Die 52-jarige man se beweerde slagoffer was net 12 toe die onderwyser hom na bewering in 2006 gemolesteer het. Die man is in 2014 weg en het onderhoof geword by ‘n ander skool in die stad, wat hom in 2021 gevra het om te bedank toe die bewerings bekend geword het. Die saak is uitgestel tot die agste van volgende maand.
# Talle bouwerkers is lewend gevind in die staat Uttarakhand in die Indiese Himalajas nadat hulle tydens ‘n sneeustorting in metaalhouers vasgekeer is. Die BBC berig van hulle het byna twee-dae lank oorleef omdat daar genoeg suurstof in die houers was. Vier-en-vyftig werkers is Vrydag onder die sneeu begrawe waarvan agt gesterf het toe die sneeustorting ‘n bouterrein getref het. Daar is dikwels sneeu- en grondstortings in die Himalajas, maar kenners sê klimaatsverandering het die uiterste weerstoestande vererger.
# Rugby: Die Bulle se uitdaging met beserings het vererger na die naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-nederlaag teen die Stormers op Loftus. Direkteur van rugby Jake White se gewone mediese verslag op ‘n Maandag is nie goeie leesstof nie, en bevat die name van Elrigh Louw, Cameron Hanekom, Johan Goosen, Canan Moodie, Cobus Wiese en Marco van Staden. Die Bulle is tans derde op die punteleer en speel volgende teen die voorloper, Leinster. Die span het gelukkig nou ‘n blaaskans van twee weke en hoop sommige van hulle staatmakers is dan weer beskikbaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-48-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-874-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….