Nuus 13:00
BULLETIN 3 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Naledi Pandor gee aandag aan internasionale regsuitdagings op die Globale Afrika-konferensie in Londen
# Die DA sê Gauteng se premier gee inwoners die skuld in plaas van om infrastruktuur te herstel
# En rugby: Die Stormers of die Haaie sal die naweek die VRK se Suid-Afrikaanse trofee omhoog hou
# Die oudminister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, is vandag ‘n spreker op die Globale Afrika-konferensie by King’s College in Londen. Sy sal die hervormings van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, internasionale reg en Afrika se strewe na twee permanente setels bespreek. Afrika wil ‘n sterker stem in globale bestuur hê om die vasteland se rol in die vorming van internasionale betrekkinge te beklemtoon, en om billike verteenwoordiging te bepleit. Tydens die weeklange konferensie vergader akademici van Afrika om multilaterale uitdagings en globale magsdinamika te bespreek.
# Suid-Afrika bied van vandag af die eerste vergadering van die G20 se teenkorrupsie-werksgroep in Somerset-Wes in die Wes-Kaap aan. Die driedaagse byeenkoms word gelei deur die minister van Openbare Werke en Administrasie, Mzamo Buthelezi, die Spesiale Ondersoekeenheid en die Departement van Justisie. Dis gemik op die verbetering van deursigtigheid en aanspreeklikheid. Sleutelbesprekings sal fokus op die versterking van openbare instellings, bateherwinning en die beskerming van verklikkers. Die G20-lande streef na samewerkende oplossings om wêreldwyd integriteit en geregtigheid aan te vuur met korrupsie wat steeds globale vertroue en ekonomiese groei ondermyn.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi het geskok met sy uitlating wat inwoners die skuld gee vir die voortslepende krisis in die provinsie. Nico de Jager van die DA sê hy het in die provinsiale rede beweer die watertekort in Gauteng is weens inwoners wat hulle daaglikse watertoekenning oorskry. Hy sê Lesufi se siening toon nie net ‘n diepgaande gebrek aan begrip vir die ware kwessies nie, maar ook ‘n leier wat lafhartig weghardloop van sy verantwoordelikheid:
# Rugby: Die komende naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-derbie tussen die Haaie en die Leeus in Durban sal bepaal wie die kompetisie se Suid-Afrikaanse afdeling wen. Die Stormers is tans in die eerste plek ná Saterdag se oorwinning oor die Bulle. Die span van Pretoria is tweede, gevolg deur die Haaie en die Leeus. Indien die Haaie die besoekers van Johannesburg op Kingspark klop, wen hulle die trofee. In die algehele VRK-kompetisie is die Bulle derde, die Haaie vierde, die Leeus negende en die Stormers 12de.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-709-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-869-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede sê dit is belangrik om bewustheid te verhoog oor doofheid en gehoorverlies en om toegang tot oor- en gehoorsorg te bevorder. Dis vandag Wêreldgehoordag, wat herdenk word onder die tema, Verander ingesteldhede: Bemagtig jouself. Maak oor- en gehoorsorg ‘n werklikheid vir almal. Die woordvoerder van die departement, Cassius Selala, sê daar is ongeveer vier-miljoen mense met ‘n gehoorgestremdheid in Suid-Afrika:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….