Sportnuus 12:00
BULLETIN SPORTNUUS 3 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Die komende naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-derbie tussen die Haaie en die Leeus in Durban sal bepaal wie die kompetisie se Suid-Afrikaanse afdeling wen. Die Stormers is tans in die eerste plek ná Saterdag se oorwinning oor die Bulle. Die span van Pretoria is tweede, gevolg deur die Haaie en die Leeus. Indien die Haaie die besoekers van Johannesburg op Kingspark klop, wen hulle die trofee. In die algehele VRK-kompetisie is die Bulle derde, die Haaie vierde, die Leeus negende en die Stormers 12de.
Nog rugby: Die Springbok-vrouesewes het Colombië met 29-nul verpletter om derde te kom in die eerste deel van die Wêreld-sewes se Uitdaagreeks in Kaapstad. Suid-Afrika het die eindstryd misgeloop nadat Kenia hulle in die halfeindronde met 19-15 geklop het. Kenia het Argentinië in die eindstryd 17-12 verslaan. Die Bok-vroue se afrigter, Renfred Dazel, sê hulle wou nie ná die eerste toernooi in die derde plek begin nie, maar dis ook nie die einde van die wêreld nie:
# Gholf: Die Johannesburgs-gebore Dylan Naidoo het Laurie Canter van Engeland op die eerste uitspeelputjie geklop om die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap in Durban te wen. Dis sy eerste DP World-toertitel. Die toernooi het op ‘n uitspeelstryd tussen die gesamentlike oornagleiers uitgeloop nadat die eindronde weens reën gestaak is. Nog ‘n Engelsman, Marco Penge, was derde. Naidoo sê die uitspeelwedstryd was vir hom ’n gulde geleentheid:
# Krieket: Die veelsydige Cooper Connolly is ingesluit in Australië se Kampioenetrofee-groep voor môre se halfeindstryd teen Indië. Die 21-jarige vervang die ster-aanvangskolwer Matthew Short, wat die res van die toernooi gaan misloop weens ‘n besering wat hy teen Afganistan opgedoen het. Australië het laas in 2011 se Wêreldbekertoernooi teen Indië verloor in ‘n uitklopwedstryd van die Internasionale Krieketraad. Die twee spanne het laas teen mekaar te staan gekom in 2023 se eendag-Wêreldbekereindstryd, wat Australië met ses paaltjies gewen het.
# En ons sluit af met motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, het koning gekraai in die seisoen se eerste Grand Prix in Thailand. Dis sy eerste sege in ‘n openingswedren sedert 2014. Die Spanjaard se jonger broer, Alex Marquez, was tweede en die tweemalige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia van Italië was derde, met slegs Ducati’s op die podium. Die Suid-Afrikaner Brad Binder was agste. Marquez sê die beste manier om die seisoen af te skop, is om die eerste wedren te wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….