Nuus 12:00
BULLETIN 3 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika bied die openings-vergadering van die G20 se teenkorrupsiegroep aan
# TLU SA waarsku oor ‘n voëlgriep-uitbreking in Suid-Afrika
# En krieket: Australië ondervind ‘n besering-terugslag voor die Kampioenetrofee-halfeindstryd
# Suid-Afrika bied van vandag af die eerste vergadering van die G20-teenkorrupsie-werksgroep in Somerset-Wes in die Wes-Kaap aan. Die driedaagse byeenkoms word gelei deur die minister van Openbare Werke en Administrasie, Mzamo Buthelezi, die Spesiale Ondersoekeenheid en die Departement van Justisie. Dis gemik op die verbetering van deursigtigheid en aanspreeklikheid. Sleutelbesprekings sal fokus op die versterking van openbare instellings, bateherwinning en die beskerming van verklikkers. Die G20-lande streef na samewerkende oplossings om wêreldwyd integriteit en geregtigheid aan te vuur met korrupsie wat steeds globale vertroue en ekonomiese groei ondermyn.
# President Cyril Ramaphosa sê die regering se pogings om die onderwysstelsel te hervorm is besig om vrugte af te werp, maar baie werk moet nog gedoen word. Die 2030-Leespaneelverslag wys dat 80-persent van graad drie-leerders nie in enige taal met begrip kan lees nie. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief een van die skadelikste gevolge van Bantoe-onderwys was die doelbewuste nalate om swart kinders te voorsien van onderrig gedurende die grondslagjare. Hy sê deur die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette sal jong kinders beter voorbereid wees vir formele onderwys.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, waarsku daar is tans ‘n groot moontlikheid dat voëlgriep in Suid-Afrika kan uitbreek. Die hoogsaansteeklike voëlgriepvirus, H5N1, het miljoene vrektes onder wilde voëls veroorsaak en handelspluimvee moes dringend uitgedun word. Bennie Van Zyl van TLU SA sê die vorige groot voëlgriep-uitbreking in Suid-Afrika het tot reuse-verliese gelei:
# Die Grensbestuursowerheid het tydelik bedrywighede opgeskort by vyf grensposte weens ernstige oorstromings wat deur swaar reën veroorsaak is. Die poste wat geraak word is Stockpoort, Makgobistad, Bray, Groblersbrug en Pontdrift. Die woordvoerder Mmemme Mogotsi sê reisigers en handelsoperateurs word aangeraai om die Ramatlabama-, Kopfontein-, Beitbrug- en Skilpadshekposte as alternatiewe te gebruik vir oorgrensbewegings:
# Krieket: Die veelsydige Cooper Connolly is ingesluit in Australië se Kampioenetrofee-groep voor môre se halfeindstryd teen Indië. Die 21-jarige vervang die ster-aanvangskolwer Matthew Short, wat die res van die toernooi gaan misloop weens ‘n besering wat hy teen Afganistan opgedoen het. Australië het laas in 2011 se Wêreldbekertoernooi teen Indië verloor in ‘n uitklopwedstryd van die Internasionale Krieketraad. Die twee spanne het laas teen mekaar te staan gekom in 2023 se eendag-Wêreldbekereindstryd, wat Australië met ses paaltjies gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-967-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-862-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….