Nuus 09:00
BULLETIN 3 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom het die instelling van beurtkrag die naweek afgeweer
# Die Europese leiers stem saam oor ‘n plan om die oorlog in die Oekraïne te help beëindig
# En Anora wen die beste rolprent by die Oscars
# Eskom sê eenheid twee van die Koebergkernkragstasie het Sondag onbepland uitgeskop terwyl dit op volle kapasiteit gewerk het. Dit het uitgeloop op die veilige afsluiting van die eenheid, maar dit sal na verwagting binne 48 uur weer by die nasionale netwerk ingeskakel word. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Koeberg eenheid twee het onverwags uitgeskop terwyl daar gewerk is aan eenheid een, wat tans van lyn is vir sy langtermyn-operasieprogram:
# Cosatu verwelkom die minister van Indiensneming en Arbeid Makhosazana Meth se plan om die aantal arbeidsinspekteurs oor die mediumtermyn tienmalig te vermeerder van twee-duisend tot 20-duisend. Die vakbondfederasie se woordvoerder Znele Sabela sê ‘n advertensie is reeds geplaas vir aansoeke vir die eerste tienduisend. Sy sê Cosatu wil die aantal gesamentlike werkplek-inspekteurs in samewerking met die departement vermeerder:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê Europese leiers het ingestem oor ‘n vierpuntplan om ‘n ooreenkoms in Oekraïne te verdedig en vrede te waarborg. Die leiers het gister ‘n noodspitsberaad in Londen gehou, na ‘n vuurwarm woordewisseling Vrydag tussen die president van Oekraïne Volodymyr Zelensky en sy Amerikaanse ampsgenoot Donald Trump in die Withuis. Starmer sê die plan behels om militêre hulp na Oekraïne aan die vloei te hou en ekonomiese druk op Rusland te versterk:
# Krieket: Indië het Nieu-Seeland met 44 lopies geklop en boaan Groep A in die Kampioenetrofee in Doebai geëndig. Hulle speel môre teen Australië in die halfeindstryd. Shreyas Iyer en Axar Patel het ‘n vennootskap van 98 aangeteken en Indië gelei na 249 vir nege, met Matt Henry wat vyf paaltjies ingeoes het. In antwoord het Varun Chakravarthy se vyf paaltjies gehelp om die Swartpette te beperk tot 205, ondanks Kane Williamson se 81. Suid-Afrika, die wenners van Groep B, kom Woensdag in die ander halfeindstryd te staan teen Nieu-Seeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-800-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-864-dollar-3-sent per fynonsen die prys van Brent ruolie is 73-dollar-11-sent.
# En Anora, ‘n fliek oor ʼn skootdanser wat impulsief met ʼn Russiese swierbol trou, is as beste rolprent bekroon by die 97ste Academy Awards in Los Angeles. Die fliek het altesaam vyf toekennings opgeraap, onder meer beste regisseur vir Sean Baker, oorspronklike draaiboek en redigering. Adrien Brody van The Brutalist is die beste akteur, terwyl Mikey Madison beste aktrise is in Anora. Kieran Culkin ontvang ʼn Oscar vir beste ondersteunende akteur in A Real Pain, met Zoe Saldaña beste ondersteunende aktrise vir haar rol in Emilia Pérez. Die beste aangepaste draaiboek was Conclave.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….