Nuus 06:00
BULLETIN 3 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering se ondersteuningsfonds vir spazawinkels sal binnekort ontplooi word
# Nog ‘n spesiale kabinetsvergadering om die begroting te bespreek word vandag gehou
# En gholf: Dylan Naidoo maak geskiedenis by die SA Ope
# Die minister van Kleinsakeontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, sê die Spazawinkel-ondersteuningsfonds van 500-miljoen-rand sal binne twee weke in werking gestel word. Die fonds poog om markmededinging te verbeter om spazawinkels en voedselafsetpunte te help om met groter kleinhandelaars mee te ding. Die minister sê ander ondernemings sal steeds voordeel trek uit bestaande departementele fondse en programme, insluitend finansiële bystand deur die Kleinsakeontwikkelings- en Finansieringsagentskap:
Ndabeni-Abrahams, sê voorts Vrydag se sperdatum beteken nie dat die probleme en uitdagings met voldoening deur spazawinkels en voedselhanteringspunte verby is nie. Gister was presies 107 dae sedert president Cyril Ramaphosa die registrasie van alle spazawinkels en voedselafsetpunte aangekondig het ná sterftes weens voedseloordraagbare siektes. Ndabeni-Abrahams sê spazawinkels en voedselondernemings wat aansoek gedoen het om te registreer en daarop wag, sal nie gepenaliseer word nie:
# Nog ‘n spesiale kabinetsvergadering sal vandag gehou word, sodat die regering van nasionale eenheid die nasionale begroting verder kan bespreek. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana se begrotingsrede is verlede maand uitgestel nadat die regeringspartye nie konsensus kon bereik oor die voorgestelde verhoging van twee-persent in BTW nie. Die begroting sal nou Woensdag ter tafel gelê word. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni sê die kabinet sal die beste maniere bepaal om die nasionale prioriteite te finansier en te verseker die aspirasies van alle burgers word weerspieël.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die Departement van Water en Sanitasie werk steeds saam met die provinsiale regering, Rand Water en alle munisipaliteite in die provinsie om die risiko van watervoorsieningontwrigtings te verminder. Die vraag na water in Gauteng het vinnig gegroei, hoofsaaklik weens bevolkingsgroei, en deel weens toenemende lekplekke aan munisipale verspreidingstelsels. Lesufi sê departemente werk saam aan die wateruitdagings:
# Israel het gister die ingang van hulpvragmotors na Gaza geblokkeer terwyl ‘n geskil oor die skietstilstand wat gevegte die afgelope ses weke beëindig het, vererger het. Hamas het bemiddelaars van Egipte en Katar gevra om in te gryp. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, se kantoor het vroeër gesê hy het ‘n voorstel aanvaar van die Amerikaanse gesant, Steve Witkoff, vir ‘n tydelike skietstilstand in Gaza vir Ramadan en die Pasga. Die skietstilstand sou gevegte gestop het oor Ramadan tot ongeveer 31 Maart en die Joodse Pasga op 20 April.
# Gholf: Die Johannesburg-gebore Dylan Naidoo het Laurie Canter van Engeland op die eerste uitspeelputjie geklop om die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap in Durban te wen. Dis sy eerste DP World-toertitel. Die toernooi het op ‘n uitspeelstryd tussen die gesamentlike oornagleiers uitgeloop nadat die eindronde weens reën gestaak is. Nog ‘n Engelsman, Marco Penge, was derde. Naidoo, die eerste Suid-Afrikaanse speler van kleur om die toernooi wen, sê die uitspeelwedstryd was vir hom ’n gulde geleentheid:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-416-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-870-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….