Nuus 13:00
BULLETIN 2 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Majodina sê die regering ontwikkel vernuwende maniere om waterinfrastruktuur te befonds
# Eko-geregtigheidorganisasies verwerp die konsep-ondersoekverslag oor aflandige boorwerk aan Suid-Afrika se Weskus
# En krieket: Bracewell sê die Swartpette het ‘n puik rekord teen Indië in IKR-toernooie
# Die minister van Water en Sanitasie Pemmy Majodina sê haar departement ontwikkel vernuwende maniere om beide nasionale waterbron-infrastruktuur en waterdienste-infrastruktuur te befonds. Die regering skakel met plaaslike en internasionale finansiële instellings en beleggers om 100-miljard-rand se infrastruktuurbefondsing te ontsluit. Majodina sê die Infrastruktuurfonds het tot dusver 23-miljard-rand vasgeknoop vir sewe groot waterinfrastruktuurprojekte:
# Die organisasies The Green Connection, Natural Justice en Masifundise verwerp die voorgestelde konsep-ondersoekverslag oor aflandige boorwerk vir olie en gas in die suidelike deel van die Diepwater-Oranje-kom aan die Weskus. Neville van Rooy van The Green Connection sê die projek skaad die land se onderneming om te werk aan die klimaatskrisis en ‘n billike energie-oordrag. Hy sê soos die openbare deelnameproses vir die projek ontvou, vra eko-geregtigheidorganisasies Suid-Afrikaners om besluitnemers aanspreeklik te hou:
# Die DA in die Wes-Kaap vra die LUR vir Plaaslike Regering Anton Bredell om die proses te bespoedig om die Knysna-munisipaliteit onder administrasie te plaas om dit ‘n buitekans te gee om te herstel. Ryan Smith van die DA sê dit is duidelik dat die verwydering van die voormalige burgemeester Aubrey Tsengwa en die verkiesing van die inkomende burgemeester, Thando Matika, bloot die kaarte geskommel het om die belange van die koalisie van korrupsie te beskerm. Hy voeg by dit verontagsaam die behoeftes van Knysna se inwoners totaal:
# Israel sal ‘n voorstel van die gesant van die Amerikaanse president Donald Trump, Steve Witkoff, aanvaar vir ‘n tydelike skietstilstand in Gaza tydens Ramadan en die Pasga. Dit volg ure na die einde van die eerste fase van die vorige skietstilstand. Die kantoor van die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu sê die oorblywende gyselaars sal ook vrygelaat word na ‘n permanente skietstilstand. Bronne in Egipte, waar oor ‘n vredesooreenkoms onderhandel word, het vroeër gesê die Israelse afvaardiging wou die eerste fase met 42 dae verleng, terwyl Hamas na die tweede fase wou aanbeweeg.
# En krieket: Die veelsydige Nieu-Seelander Michael Bracewell sê sy span se puik rekord teen Indië in toernooie van die Internasionale Krieketraad gee hulle vertroue vir hulle laaste groepswedstryd in die Kampioenebeker. Die eerste twee spanne wat die halfeindronde gehaal het, pak mekaar vandag in Doebai. Albei is onoorwonne en die wenner sal bo aan Groep A eindig. Dit volg nadat Nieu-Seeland in Oktober en November verlede jaar verras het met ‘n toetsreeks-oorwinning van 3-0 in Indië. Suid-Afrika is reeds deur na die halfeindronde nadat hy Engeland gister gemaklik met sewe paaltjies geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….