Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mielieproduksie styg danksy meer reën
# Motorsport: Die Marquez-broers is die vinnigste in Thailand voor die eerste MotoGP-wedren
# En PRASA bied treindienste vir die groot sportnaweek in Gauteng
# Landbou-ontleders verwag ‘n gesonde mielie-oes danksy die uitstekende somerreën ná ‘n droogtegeteisterde seisoen. Die Oesskattingskomitee voorspel ‘n styging van 8,26-persent in kommersiële mielie-oeste, met witmielies wat met meer as 22-persent sal toeneem. Ander somergewasse, insluitend sonneblom en sojabone, sal ook toeneem. ‘n Ekonoom, Wandile Sihlobo, het aan SABC News gesê graanproduksie sal 17-miljoen ton oorskry, wat ‘n duidelike teken van herstel aandui:
# Die Campaign for Free Expression kritiseer AfriForum en Solidariteit vir hul beweerde waninligtingsveldtog teen Suid-Afrika. Uitvoerende direkteur Nicole Fritz het aan Newzroom Afrika gesê hierdie regse groepe beskinder die land aktief by die Amerikaanse regering. Die organisasies kry hewige teenkanting omdat hulle na bewering vals aansprake by hulle steunwerwing insluit. Fritz beskryf hul optrede as uiters onverantwoordelik en skadelik vir Suid-Afrika se globale aansien:
# Minstens 41 mense is vasgekeer nadat hulle deur ‘n sneeustorting meegesleur is in die Indiese Himalajas. Die voorval het naby ‘n padbouterrein in die staat Uttarakhand plaasgevind. Sky News berig minstens 57 werkers is aanvanklik onder die sneeu begrawe, maar 16 is gered. Die Indiese Leër is saam met die nasionale ramp- en rampreaksiemagte van die regering deel van die reddingsoperasie. Die gebied is vyf kilometer vanaf die gewilde Hindoe-tempel Badrinath, wat elke jaar duisende aanhangers lok.
# Motorsport: Die sesmalige wêreldkampioen, Marc Marquez, se broer Alex het hom getroef tydens die middagoefening voor die eerste wedrennaweek van die MotoGP-seisoen op Buriram in Thailand. Marc, die ouer broer wat by die Ducati-fabriekspan aangesluit het, was die vinnigste in die oggendoefening in uiters hoё temperature. Die 32-jarige Spaanse legende was in die middag ook op sy stukke om die vinnigste tyd aan te teken, voordat Alex later ‘n vinniger rondetyd behaal het. Brad Binder van Suid-Afrika was 12de vinnigste, net voor die dubbele wêreldkampioen, Francesco Bagnaia.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-751-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: PRASA bied spesiale Metrorail-treindienste vir ondersteuners in Gauteng wat môre die sokkerwedstryd tussen Mamelodi Sundowns en Kaizer Chiefs in Pretoria bywoon, en die rugbywedstryd tussen die Leeus en die Haaie in Johannesburg. Sokkeraanhangers kan van verskeie stasies na die Pretoriase stasie reis, en daarvandaan met pendeltuie na die Lucas Moripe-stadion. Rugbyondersteuners kan elke 15 minute per trein van Parkstasie na Ellispark reis. Prasa het bevestig sekerheidsmaatreëls is verhoog en versoek aanhangers om aanlyn skedules na te gaan vir ‘n seepgladde reiservaring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….