Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Kaapstadse Pride-fees eindig hierdie naweek met die jaarlikse Pride-parade en Mardi Gras. Die parade is die hoogtepunt van ʼn maandlange pride-fees watverskeidenheid en inklusiwiteit vier en bewustheid van LGBTIQ+ skep. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die metro is verbind tot ʼn inklusiewe stad wat ʼn tuiste is vir ʼn uiteenlopende groep mense van verskillende agtergronde, etnisiteit, geloof en seksuele oriëntering:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie is vierde op die ranglys van Suid-Afrika se 26 openbare universiteite vir sy skeppende navorsingsuitsette. Die erkenning is vervat in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se 2024-verslag oor Skeppende Navorsingsuitsette en Innovering. Dit word in verskieie dissiplines beoordeel, insluitend skone kunste, visuele kunste, musiek, teater, dans, ontwerp, rolprent en televisie, en letterkunde. Die drie top-instellings is die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Johannesburg en die Rhodes-universiteit.
# Twee-en-veertig fietsryers gaan van 2 tot 6 Maart 500 kilometer van Oos-Londen na Kaapstad aflê. Die tog is gemik op die insameling van sowat 400-duisend-rand vir die Eyabantwana-kindertrust. Die fonds help met noodsaaklike toerusting vir pediatriese sorg in die Oos-Kaap. Daar is tot dusver 262-duisend-rand ingesamel. Die jaarlikse fietsrit het ten doel om die gehalte van kindergesondheidsorg te verbeter.
# Die popster Katy Perry en die CBS Mornings-aanbieder, Gayle King, gaan passasiers wees op ‘n vlug, bestaande uit slegs vroue, wat Blue Origin se New Shepherd-vuurpyl later vanjaar gaan onderneem. Lauren Sanchez, die verloofdevan Blue Origin se eienaar, Jeff Bezos, die voormalige NASA-vuurpylwetenskaplike, Aisha Bowe, die menseregteaktivis, Amanda Nguyen en die rolprentvervaardiger Kerianne Flynn gaan ook aan boord wees. Blue Origin sê dit is die eerste ruimtevlug met slegs vroue sedert Valentina Tersehkova van Rusland se alleensending in 1963.
# En ten slotte: Die Elafonissi-strand in Kreta, Griekeland, bekend vir sy pienk sand en warm, kristalhelder water, is as TripAdvisor se beste strand in die wêreld vir 2025 aangewys. TripAdvisor sê vanjaar se lys strek oor ses vastelande en 50 lande met meer as 100 van die beste strande wat die uiteenlopendheid van kusplekke oral in die wêreld tentoonstel. Tweede op die lys is die Banana-strand in Phuket, Thailand, met die Eagle-strand in Oranjestad, Aruba, derde. Die Siesta-strand in Florida en die Praie de Falésia in Portugal maak die top vyf vol.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….