Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Oseane, wat altyd beskou is as onbeperk, is tans onder druk weens oorbevissing, aardverwarming en besoedeling. Dit is volgens ‘n marienebioloog aan die Universiteit van die Wes-Kaap, professor Gavin Maneveldt. Byna 90-persent van die wêreld se seevisvoorraad is volledig uitgeput of oorbevis. Maneveldt sê wetenskaplikes oorweeg ander voedsel- en energiebronne terwyl die wêreldbevolking na verwagting teen 2050 9,7-miljard sal bereik. Hy sê ‘n belowende oplossing is die onontdekte moontlikhede wat seewier bied:
# Duitsland se KFW Ontwikkelingsbank het ʼn konsessielening van 2,8-miljard-rand aan die Stad Kaapstad toegestaan om sy elektrisiteitsinfrastruktuur te versterk en hernubare energie te integreer. Die voorwaardes is nog nie bekend nie, maar die lening word beskryf as gunstig en ooreenkomstig Suid-Afrika se billike energieoorgang. Die stad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê sonder betroubare infrastruktuur kan hulle eenvoudig nie hul doelwitte bereik om kragonderbrekings te vermy nie. Die Duitse ambassadeur, Andreas Peschke, sê hulle is verbind tot die land se billike energieoorgang.
# En ten slotte: Lande het ná intense onderhandelings in Rome ooreengekom oor befondsing om bioverskeidenheid te beskerm. Dit beëindig die dooiepunt ná 2024 se COP16-beraad. Die ooreenkoms sit uiteen hoe daar teen 2030 jaarliks byna 3,7-duisend-miljard-rand bewillig sal word om die natuurlewe in armer lande te beskerm. Dit stig nie ʼn nuwe fonds nie, maar stel meganismes beskikbaar wat doeltreffende finansiering verseker. ʼn Miljoen spesies word met uitwissing bedreig, terwyl onvolhoubare boerderymetodes woude vernietig, grond uitput en plastiek besoedeling vererger.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….