Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA lê ‘n klagte teen minister Ntshavheni omdat sy LP’s verhoed word om toesighoudende pligte uit te voer
# Die kabinet is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag ná die hand-voet-en-mondsiekte-uitbrekings in twee provinsies
# En tennis: Jannik Sinner se benoeming vir die Laureus-toekennings word teruggetrek na sy opkikkerskorsing
# Die DA sê hy het ‘n klagte by die Parlement se Etiekkomitee ingedien teen die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, omdat sy sy Parlementslede verhinder het om ‘n toesigbesoek aan die Direktoraat vir Konvensionele Wapenbeheer te doen. Die besoek is aangevra weens die gesamentlike staande komitee vir Verdediging se kommer dat permitaansoeke nie uitgereik word nie, en ander administratiewe mislukkings in die bedryf van miljarde-rand. Die DA-lid, Nicholas Gotsell, sê Ntshavheni het die waarnemende direkteur, Peter Mashaba, telefonies opdrag gegee om die LP’s toegang te weier.
# Die kabinet monitor ‘n uitbreking van hand-voet-en-mondsiekte in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die hoogs aansteeklike besmetting, wat vinnig onder kinders versprei, veroorsaak griepagtige simptome, pynlike blasies en opgeswelde hande. Minister Ntshavheni het die publiek gerusgestel en sê die siekte is nie dodelik nie en verskil van bek-en-klouseer wat diere besmet:
# Die GOOD-party in KwaZulu-Natal sê die regering moet sy verantwoordelikheid van behoorlike grondgebruiksbeplanning en die toenemende gevaar van klimaatsverandering ernstig opneem. Minstens nege mense is dood in oorstromings in Lamontville en Chatsworth in die eThwekwini-metro, en byna 300 huise is beskadig. Wendy Nare van GOOD sê hulle sal voortgaan om hulle vir sterker optrede te beywer vir die beperking van aardverwarming, soos die party se onlangse vennootskap met Fossil Free South-Africa:
Nog omgewingsnuus: Die brandweerdienste van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê die veldbrand in die berge bo die plaas Weltevrede is nog nie geblus nie. Brandbestrydingspanne het oornag hulle hande vol gehad om opvlammings op die brandlyn in bedwang te kry. Die munisipale woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê helikopters is ingespan, maar hulle kon nie help om die brandlyn genoegsaam af te koel nie. Sy sê die windrigting het verander en die brand het op nuwe plekke opgevlam:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, se Laureus-benoeming vir sportman van die jaar is teruggetrek nadat hy vir drie maande geskors is weens opkikkergebruik. Die driemalige kampioen, wat verlede jaar twee keer positief getoets het, mag in Mei eers weer speel ná ‘n ooreenkoms met die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport. Die Laureus-wêreldsport-akademie se voorsitter, Sean Fitzpatrick, sê hulle neem kennis van die versagtende omstandighede, maar die verbod maak Sinner se benoeming ongewens.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-245-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….