Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus word geloof omdat hy daarin geslaag het om Felix Jones terug te bring as hulpafrigter. Erasmus het gister aangekondig die tweemalige Wêreldbekerwenner sluit die naweek weer by die bestuurspan aan. Die Ier het van 2019 met die Bokke gewerk voor hy in 2023 na Engeland is, waar sy verblyf as onstuimig beskryf is. Jones het nou binnekennis van die Engelse opset, wat in die toekoms vir die Bokke van onskatbare waarde kan wees. Erasmus beskryf hom as ‘n noodsaaklike deel van Bok-sukses.
Nog rugbynuus: Die Haaie se afrigter, John Plumtree, het die Springbok-skrumskakel Jaden Hendrikse terugverwelkom in die plek van Grant Williams, wat bank toe skuif vir môre se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Leeus in Johannesburg. Die ander twee veranderings aan die span is Ruan Dreyer wat die beseerde Trevor Nyakane op stut vervang, en Deon Slabbert wat in Corné Rahl se plek slot speel. Vincent Tshituka is steeds kaptein. Vincent Koch, Siya Kolisi en Eduan Keyter keer terug en begin op die bank.
# Nou seiljagvaart: Die 35ste jaarlikse Mykonos-kuswedvaart tussen Kaapstad en Langebaan aan die Weskus het vandag begin met ‘n rekordgetal van 92 inskrywings, wat die grootste kielbootvloot in sy geskiedenis verteenwoordig. Die tweedaagse geleentheid word deur die Royal Cape-seiljagklub aangebied. Die geleentheid lok top-seevaarders van Suid-Afrika en oorsee. Die verdedigende kampioen, Jackal, keer terug om sy titel te verdedig, terwyl ‘n ontwikkelingspan met vroue, Angel Wings, vir die Kaap-na-Rio-wedvaart voorberei. Die wedvaart beloof opwindende mededinging, uitdagende toestande en wêreldklas-seiljagaksie.
# Krieketnuus: Afganistan se hoofafrigter, Jonathan Trott, sê niemand sal sy span ooit weer onderskat nie. Die land het Engeland Woensdag in die Kampioenetrofee geskud en met agt lopies gewen om die Engelse uit te skakel. Ibrahim Zadran het Afganistan se beurt van 325 vir sewe geanker met ‘n briljante 177 van net 146 balle. Trott sê die oorwinning en hulle goeie vertoning in die vorige twee Wêreldbekertoernooie beteken Australië sal niks as vanselfsprekend aanvaar in vandag se wedstryd nie, veral aangesien kwalifisering vir die halfeindronde op die spel is. Afganistan kolf eerste.
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, se Laureus-benoeming vir sportman van die jaar is teruggetrek nadat hy vir drie maande geskors is weens opkikkergebruik. Die driemalige kampioen, wat verlede jaar twee keer positief getoets het, mag in Mei eers weer speel ná ‘n ooreenkoms met die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport. Die Laureus-wêreldsport-akademie se voorsitter, Sean Fitzpatrick, sê hulle neem kennis van die versagtende omstandighede, maar die verbod maak Sinner se benoeming ongewens.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….