Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag ná die uitbreking van hand-voet-en-mondsiekte in twee provinsies
# RISE Mzansi vra die minister van Vervoer om die aanstelling van die SAL se nuwe groepshoof te verduidelik
# En krieket: Afganistan se afrigter sê sy span sal nooit weer onderskat word nie
# Die kabinet monitor ‘n uitbreking van hand-voet-en-mondsiekte in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die hoogs aansteeklike besmetting, wat vinnig onder kinders versprei, veroorsaak griepagtige simptome, pynlike blasies en opgeswelde hande. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die publiek gerusgestel en sê die siekte is nie dodelik nie en verskil van bek-en-klouseer wat diere besmet:
# RISE Mzansi vra die minister van Vervoer, Barbara Creezy, om voor die parlementêre portefeuljekomitee op Vervoer te verskyn om John Lamola se aanstelling as groepshoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens te verduidelik. Woordvoerder Makashule Gana wys op kommer oor beweerde politieke inmenging deur adjunkpresident Paul Mashatile en die ANC se ontplooiingskomitee. Hy vra deursigtigheid in die werwingsproses:
# Die GOOD-party in George vra dat die bevindings van die ondersoek na die ineengestorte gebou in die munisipale raad ter tafel gelê word. Die gebou was in aanbou toe dit in Mei verlede jaar ingetuimel het. Dit het gelei tot die dood van 34 mense, terwyl 28 gered is. Chantelle Kyd van GOOD sê deur die bevindings te hersien, kan verdere voorvalle van dié aard in die toekoms verhoed word en dit kan ook broodnodige afsluiting vir die slagoffers se naasbestaandes gee:
# Die Keniaanse polisie is vol vertroue dat hulle die moordenaars van ‘n Skotse sakeman sal vastrek nadat sy liggaam in ‘n sak pynappels gevind is. Campbell Scott is laas op 16 Februarie gesien toe hy ‘n konferensie in ‘n hotel in Nairobi bygewoon het. Sy liggaam is enkele dae later in ‘n woud suidoos van die stad ontdek. Sy hande was agter sy rug vasgebind en daar was tekens van marteling. Twee mense is reeds in hegtenis geneem terwyl die ondersoek voortduur.
# Krieket: Afganistan se hoofafrigter, Jonathan Trott, sê niemand sal sy span ooit weer onderskat nie. Die land het Engeland Woensdag in die Kampioenetrofee geskud en met agt lopies gewen om die Engelse uit te skakel. Ibrahim Zadran het Afganistan se beurt van 325 vir sewe geanker met ‘n briljante 177 van net 146 balle. Trott sê die oorwinning en hulle goeie vertoning in die vorige twee Wêreldbekertoernooie beteken Australië sal niks as vanselfsprekend aanvaar in vandag se wedstryd nie, veral aangesien kwalifisering vir die halfeindronde op die spel is. Afganistan kolf eerste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-482-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-885-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….