Nuus 09:00
BULLETIN 28 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwelkom die aanvaarding van ‘n konvensie teen geslagsgeweld deur die Afrika-unie
# Vandag is die laaste dag vir spazawinkel-registrasie
# En Donald Trump sê ‘n handelsooreenkoms tussen die VSA en Brittanje is op hande
# Die Kabinet verwelkom die Afrika-unie Konvensie se aanvaarding van die beëindiging van geweld teen vroue en meisies. Dit is ‘n regsinstrument wat daarop gemik is om geweld teen vroue en meisies in Afrika te voorkom en uit te skakel. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê die aanvaarding van die wettig bindende raamwerk volg ná ‘n geskiedkundige besluit deur AU-staatshoofde in Februarie 2023:
# Die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, waarsku spazawinkel-eienaars en kos-verkooppunte om seker te maak hulle is geregistreer. Dis vandag die laaste dag vir registrasie. Meer as 20 kinders is verlede jaar aan voedselvergiftiging dood nadat hulle versnaperinge geëet het wat by spazawinkels gekoop is. President Cyril Ramaphosa het opdrag vir registrasie gegee om voedselveiligheid en die bedryf te reguleer. Ndabeni-Abrahams sê alle verkooppunte moet munisipale verordeninge nakom:
# ActionSA in Tshwane sê hy is bekommerd oor die buitensporige, ongemagtigde en verkwistende uitgawes wat in die 2023/2024-boekjaar onder die vorige DA-administrasie aangegaan is. Die metro het meer as vyf-miljard-rand se buitensporige, ongemagtigde en verkwistende uitgawes van die eerste Julie 2023 tot 30 Junie 2024 aangegaan. Dié tydperk was ‘n paar maande voor die huidige administrasie oorgeneem het. Thsepiso Modiba van ActionSA sê tydens die ampstermyn van die voormalige DA burgemeester, Cilliers Brink, is sowat drie-miljard-rand se vrugtelose en verkwistende uitgawes aangeteken:
# Donald Trump sê hy voorsien ‘n handelsooreenkoms tussen Amerika en Brittanje gaan baie gou gesluit word. Dit kan Brittanje in staat stel om die tariewe te vermy waarmee die president sommige ander handelsvennote van Amerika dreig. Trump het Donderdag met die Britse eerste minister, Keir Starmer in die Withuis vergader. Britse regerings soek sedert 2016, toe die land die Europese Unie verlaat het, ‘n handelsooreenkoms met Amerika. Trump sê die ooreenkoms sal voordelig vir albei lande wees:
# Tennis: Die Nederlander Tallon Griekspoor het sy grootste oorwinning behaal toe hy die topgekeurde Daniil Medvedev verslaan het om die halfeindronde van die Dubai-kampioenskap te haal. Griekspoor het vier wedstrydpunte afgeweer om die Rus te klop. Hy kom nou teen die Griek, Stefanos Tsitsipas, te staan wat die Italianer Matteo Berrettini getroef het om sy eerste halfeindronde sedert verlede jaar te bereik. In die ander halfeindronde spook Felix Auger-Aliassime van Kanada en die kwalifiseerder, Quentin Halys van Frankryk, sake uit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-491-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-860-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….