Nuus 08:00
BULLETIN 28 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê Ramaphosa en die ANC skep verdeeldheid in die land
# Change South Africa waarsku daar gaan meer MIV-sterftes wees
# En die polisie sê die dood van Gene Hackman en sy vrou sal ondersoek word
# AfriForum sê president Cyril Ramaphosa en die ANC-leiers is die mense wat verdeeldheid in Suid-Afrika saai. Die president het AfriForum en Solidariteit gekritiseer nadat hulle hul griewe na president Donald Trump se administrasie in Washington geneem het. Hy beskuldig die twee groepe dat hulle verdeeldheid saai in die land. Die drukgroepe het hierdie week met verteenwoordigers van Trump se administrasie vergader. AfriForum se hoof, Kallie Kriel, sê hulle sal voortgaan om vir die land se belange en skaamteloos vir Afrikanerbelange te veg:
# Change South Africa vra die regering om dringend op te tree en gapings te vul nadat die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling se befondsing gestaak is. Die agentskap het aan die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting, Pepfar, kennis gegee dat toelaes gestaak word. Pepfar-fondse maak 17-persent uit van Suid-Afrika se 44,4-miljard-rand-veldtog vir MIV-berading en toetsing. Change South Africa sê indien die regering niks doen en nie dringend planne maak nie, sal dit nog dood en lyding veroorsaak.
# Die IVP in Ekurhuleni het Donderdag sy mosie van wantroue teen die raad se speaker, Nthabiseng Tshivhenga, teruggetrek enkele oomblikke voordat dit aangehoor sou word. Die party het die mosie verlede week ingedien en gesê die EFF-speaker is nie meer bevoeg om die amp te beklee nie omdat sy na bewering nie betaamlike optrede, skedules en raadsresolusies kon afdwing nie. Tshivhenga se kantoor is ook beskuldig van bedrog. Die IVP sê sy besluit volg nadat sommige partye kop uitgetrek het.
# Die owerhede sê die omstandighede rondom die Oscar-bekroonde akteur, Gene Hackman en sy vrou, die klassieke pianis, Betsy Arakawa, se dood is verdag genoeg om ‘n deeglike ondersoek te regverdig. Die egpaar en hulle hond is Woensdag dood aangetref in hul huis in Nieu-Mexiko. Die vermoede bestaan dat dit deur koolstofmonoksied veroorsaak is. Santa Fe se polisiehoof, Adan Mendoza, sê hulle vermoed die egpaar is reeds ʼn geruime tyd dood:
# Gholf: Sam Bairstow van Engeland en die Sweed, Fredrik From, loop met sewe onder baansyfer 65 saam voor ná die Suid-Afrikaanse Ope se eerste ronde in Durban. Die Suid-Afrikaner Darren Fichardt was ook op sewe onder met vier putjies oor toe spel Donderdag weens swak lig gestaak is. Intussen het Jayden Schaper van Suid-Afrika, Richie Ramsay van Skotland, Shubhankar Sharma van Indië, Haotong Li van China en Todd Clements van Engeland die dag op ses onder baansyfer afgesluit. From sê hy is tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-889-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-868-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….