Nuus 07:00
BULLETIN 28 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Treatment Action Campaign vra vir dringende ingryping deur die regering
# ‘n Ontploffing by ‘n M23-saamtrek in die DRK eis die lewens van 11
# En rugby: Daar is goeie nuus vir die Haaie met die terugkeer van Kolisi en Koch
# Treatment Action Campaign het die Amerikaanse regering gekritiseer omdat hy befondsing aan die president se noodplan vir MIV-organisasies in Suid-Afrika gestaak het. Hulle het die fondse deur die Verenigde State se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling ontvang. Pepfar is in 2003 gestig om lande met hoë MIV-getalle soos Suid-Afrika te help. Die land het sowat 145-miljard-rand se fondse ontvang waarvan ongeveer 8,1-miljard vir die huidige Amerikaanse boekjaar was. TAC sê die regering moet vinnig optree en ‘n plan maak om lewens te red.
Die Sex Workers Education and Advocacy Taskforce het intussen ernstige kommer uitgespreek oor die onlangse besnoeiings in USAID-befondsing, wat ‘n aansienlike uitwerking op MIV-voorkoming- en behandelingsprogramme in Suid-Afrika sal hê. Die organisasie versoek die regering om vinnig op te tree, die befondsing te verhoog en plaaslike oplossings te ondersteun om gemeenskappe wat gemarginaliseerd is se regte en gesondheid te beskerm. Die direkteur, Kholi Buthelezi, het op ‘n nuuskonferensie gesê hierdie besnoeiings is verwoestend vir kwesbare gemeenskappe, veral sekswerkers, en is ‘n terugslag ná jare se vordering in die bekamping van MIV:
# Build One South Africa kritiseer skakelveldtogte in die korporatiewe wêreld wat min doen om die onderwyskrisis in Suid-Afrika reg te stel. Die party se leier, Mmusi Maimane, versoek ondernemings om in langtermynoplossings soos Vroeë Kinderontwikkelingsentrums te belê eerder as om handelsmerk-skenkings te bied. Meer as drie-miljoen leerders het nie lessenaars nie en 81-persent van die kinders kan teen 10-jarige ouderdom nie met begrip lees nie. Roger Solomons van BOSA eis volhoubare korporatiewe belegging in onderwys:
# Die DA in Tshwane sê hy verwerp die goedgekeurde 2024/2025-aanpassingsbegroting omdat die ANC-koalisie wil hê inwoners moet meer betaal vir watertenkwaens en sekerheidsmaatskappye. Die begroting van 50,6-miljard-rand is deur 116 raadslede goedgekeur en 88 was daarteen. Die DA se koukusleier en voormalige burgemeester, Cilliers Brink, sê Tshwane is tans 334-miljoen-rand agter op die metro se begrotingsbefondsingsplan wat die burgemeester volgens hom blykbaar laat vaar het:
# Minstens elf mense is dood en sowat 60 beseer in ʼn ontploffing by ʼn saamtrek van die M23-rebelle in Bukavu in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo. Dit was die eerste saamtrek wat die Rwandees-ondersteunde rebelle in die stad gehou het sedert hulle dit vroeër die maand by regeringsmagte afgeneem het. Die rebelle beskuldig die Kongolese owerhede en sê die lafhartige en barbaarse aanval sal nie sonder gevolge wees nie. Die DRK-president, Felix Tshisekedi, het die aanval as ʼn afskuwelike daad van terrorisme beskryf.
# Rugby: Die Haaie se afrigter, John Plumtree, het die Springbok-skrumskakel Jaden Hendrikse terugverwelkom in die plek van Grant Williams, wat bank toe skuif vir die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Leeus in Johannesburg. Die ander twee veranderings aan die span is Ruan Dreyer wat die beseerde Trevor Nyakane op stut vervang, en Deon Slabbert wat in Corné Rahl se plek slot speel. Vincent Tshituka is steeds kaptein. Vincent Koch, Siya Kolisi en Eduan Keyter keer terug en begin op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-664-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-880-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….