Nuus 06:00
BULLETIN 28 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê AfriForum en Solidariteit moet Trump se aanbod aanvaar
# Die kabinet sê hy gaan voort met begrotingsbesprekings
# En rugby: Rassie Erasmus sê Felix Jones is noodsaaklik vir Springbok-sukses
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het teruggekap na AfriForum en Solidariteit en raai hulle aan om die aanbod van die Amerikaanse president, Donald Trump, om in Amerika te hervestig te aanvaar indien hulle ongelukkig is in Suid-Afrika. Dit volg nadat hulle met Trump-amptenare in Washington vergader het, waar hulle besorgdheid uitgespreek het oor grondonteiening. Ntshavheni beskuldig die organisasies daarvan dat hulle vals bewerings oor die Onteieningswet versprei en die land ondermyn:
# Ntshavheni, het bevestig die kabinet gaan Maandag nog ‘n spesiale vergadering hou om oor die begroting te besin. Die kabinet verseker landsburgers die begroting sal die land se belange weerspieël. Die begrotingsrede is verlede week uitgestel weens teenstand oor ‘n voorgestelde verhoging van twee-persent in BTW. Ntshavheni het aan die media gesê hoewel so ‘n vertraging ongewoon is, word dit toegelaat ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur:
# Die UDM sê die besluit deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake om nog ‘n kommissie van ondersoek na inisiasiesterftes in die Oos-Kaap te stig, is ‘n mors van tyd. Die UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, voer aan vorige kommissies het tot geen werklike optrede gelei nie en gesinne kry steeds swaar. Kwankwa versoek die regering om strenger regulasies op onwettige inisiasieskole toe te pas, tradisionele leiers se aanbevelings te ondersteun en hulpbronne aan praktiese oplossings toe te wys.
# Die Tshwane-stadsraad het die burgemeester Nasiphi Moya se aanpassingsbegroting vir die 2024/2025-boekjaar goedgekeur. Altesaam 116 raadslede het ten gunste van die begroting gestem, met 88 daarteen, insluitend die DA en Vryheidsfront Plus. Die begroting bly onveranderd op die 50,6-miljard-rand wat in Junie verlede jaar ingedien is. Die burgemeester se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê hoewel die totale uitgawes met 704-miljoen-rand toegeneem het, het versigtige finansiële bestuur ‘n begrotingsoorskot van 3,7-miljard tot gevolg gehad:
# Oekraïne se kabinet het die groen lig gegee vir die land se minister van Buitelandse Sake of die Ekonomie om ‘n ooreenkoms te onderteken wat Washington toegang gee tot Oekraïne se natuurlike hulpbronne in ruil vir Amerikaanse ondersteuning. Onderhandelinge rondom die ooreenkoms het tot spanning tussen die Amerikaanse president Donald Trump en die Oekraïnse leier Volodymyr Zelensky gelei nadat hy geweier het om die eerste konsep te onderteken. Trump het toe beweer die Oekraïnse leier is ‘n onwettige en korrupte “diktator”. Zelensky word vandag in Washington verwag vir die ondertekening en ‘n vergadering met Trump.
# Rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus kry lof omdat hy daarin geslaag het om Felix Jones terug te bring as hulpafrigter. Erasmus het gister aangekondig die tweemalige Wêreldbekerwenner sluit die naweek weer by die bestuurspan aan. Die Ier het van 2019 met die Bokke gewerk voor hy in 2023 na Engeland is, waar sy verblyf as onstuimig beskryf is. Jones het nou binnekennis van die Engelse opset, wat in die toekoms vir die Bokke van onskatbare waarde kan wees. Erasmus beskryf hom as ‘n noodsaaklike deel van Bok-sukses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-524-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-875-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….