Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwelkom suksesvolle G20-vergaderings met ministers van Buitelandse Sake en Finansies
# Rugby: Die Springbokke se stadions vir vanjaar se tuistoetse word bevestig
# En ‘n besope toeris word met byna tien-duisend-rand beboet nadat hy in die Trevi-fontein in Rome spring
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê Suid-Afrika se G20-presidentskap vorder goed ná verlede week se suksesvolle vergadering met ministers van Buitelandse Sake in Johannesburg, sowel as die huidige vergadering met ministers van Finansies en bestuurders van sentrale banke in Kaapstad. Volgens Ntshavheni het die kabinet beklemtoon die G20 bly noodsaaklik vir internasionale ekonomiese samewerking en die bevordering van Suid-Afrika se doelwitte van solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering wil ‘n betekenisvolle ooreenkoms met Amerika bereik oor internasionale betrekkinge en handel, eerder as om sy beleide te moet verduidelik. Ramaphosa het in Johannesburg tydens ‘n gesprek met die ondervoorsitter van Goldman Sachs, Richard Gnodde, gepraat oor die spanning rondom grondonteieningswette en die standpunt oor Israel, wat daartoe gelei het dat die VSA sy hulp gestaak het. Ramaphosa het verduidelik daar is op geen privaat grond beslag gelê sedert apartheid geëindig het nie:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys sê nuwe befondsingsmodelle vir afgeskeepte middelinkomste-studente sal broodnodige ondersteuning verleen. Voorsitter Tebogo Letsie sê studente wat weens hul middelklasinkomste nie vir NSFAS kwalifiseer nie, kan vir befondsing aansoek doen. Dit word geadministreer deur NSFAS en dek onderrig en verblyf. Letsie het aan SABC News gesê 17-duisend aansoeke is ontvang en die program duur tien jaar:
# Rugby: Die Springbokke gaan op 12 Julie die eerste keer sedert 2021 na die Oos-Kaap terugkeer wanneer hulle Italië op die Nelson Mandelabaai-stadion pak. Die wêreldkampioen skop hulle seisoen ‘n week tevore teen Italië af in Pretoria, en speel op 19 Julie in Mbombela teen Georgië. Die Bokke en Australië speel op 16 Augustus op Ellispark in Johannesburg in die Rugbykampioenskap, en ‘n week later in Kaapstad. Suid-Afrika en Argentinië gaan op 23 September in Durban kragte meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-410-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-888-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nieu-Seelandse toeris is met byna tien-duisend-rand beboet en lewenslank verbied om die wêreldberoemde Trevi-fontein in Rome, Italië, te besoek. Dit volg nadat hy en twee vriende besluit het om in die baken uit die Barok-era te spring. Die polisie sê drank was beslis betrokke. Die fontein is verlede jaar gedreineer om marmer te herstel wat afgebreek het weens die miljoene munte wat elke jaar ingegooi word. Diewe probeer gereeld om van die 30-miljoen-rand se munte te steel wat elke jaar in die water gegooi word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….