Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Bewaarders van Vulpro is verheug nadat 15 wilde Kaapse aasvoëls na ‘n afwesigheid van 30 jaar naby die Bergsebra-nasionale park in die Oos-Kaap waargeneem is. Vulpro se stigter en uitvoerende hoof, Kerri Wolter, sê die ontdekking bewys hulle welslae om aasvoëls van amperse uitwissing te red. Sy beklemtoon aasvoëls speel ‘n deurslaggewende rol om die verspreiding van siektes te voorkom. Wolter sê hoewel die getalle kritiek laag bly, gaan die organisasie voort met sy programme vir rehabilitasie, teling en bewusmaking om hierdie voëls te beskerm.
# Die brand in die Nuwelandkloof in die Tafelberg-nasionale park in Kaapstad is onder beheer, insluitend in gebiede wat voorheen ontoeganklik was. Die brand, wat Sondag uitgebreek het, het Dinsdagaand opgevlam, maar is gisteroggend onderdruk. Die Platteklip-kloof- en Kloofhoek-roetes is heropen, maar Maclear se Baken en Duiwelspiek na Nuweland is steeds gesluit. SANParke het die brandweerdienste, vrywilligers en die publiek bedank vir hul ondersteuning en vir die die skenkings om brandbestryders tydens hul skofte van 24-uur by te staan.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê hy is nog ‘n treetjie nader aan volle herstel nadat ‘n kuberaanval verlede maand sy inligtings- en kommunikasietegnologiestelsels lamgelê het. Die aanval het wydverspreide onsekerheid veroorsaak oor die diens se vermoë om kritieke weer- en klimaatsdienste te verskaf. Die woordvoerder, Oupa Segalwe, sê die diens kan ná die herstelwerk weer alle weerprodukte digitaal stuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….