Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa staan onwrikbaar vas oor die handhawing van Suid-Afrika se beleid oor onverbondenheid
# Die Solidariteit-beweging sê spanning tussen Amerika en Suid-Afrika kan werksgeleenthede kos
# En Queen Latifah, Cynthia Erivo en Ariana Grande gaan tydens die Oscar-seremonie optree
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se verbintenis tot die beleid van aktiewe onverbondenheid herbevestig. Hy was deel van ‘n gesprek op die Goldman Sachs-konferensie in Johannesburg. Die dialoog het gefokus op kwessies soos ekonomiese groei, strukturele hervormings en internasionale betrekkinge. Ramaphosa sê Suid-Afrika sal nie beïnvloed word om kant te kies in wêreldkonflikte nie, veral nie deur globale moondhede nie, en dit sluit die Russies-Oekraïnse oorlog in:
# Die Solidariteit-beweging sê Amerikaanse frustrasie oor Suid-Afrika se buitelandse beleid kan ernstige ekonomiese gevolge hê. Die hoof van Internasionale Betrekkinge, Jaco Kleynhans, waarsku diplomatieke spanning kan duisende Suid-Afrikaanse werkgeleenthede bedreig, veral deur die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, wat 500-duisend werkers ondersteun. Kleynhans sê daar is ‘n voorgestelde Amerikaanse wetsontwerp om te herbesin oor bilaterale betrekkinge, in die lig van Suid-Afrika se bande met Hamas, China, Iran en Rusland. Hy sê hulle vra doelgerigte sanksies in plaas daarvan om gewone Suid-Afrikaners te straf.
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsaagentskap waarsku aansoekers vir die maatskaplike hulpverleningstoelae oor vals webwerwe. Hierdie webwerwe word gebruik om persoonlike inligting vir bedrieglike doeleindes te bekom. Bathembu Futshane van die departement sê hulle het ‘n aksieplan on sekerheid te versterk, insluitende beter kodering en verbetering van sagteware, en beplan om die vals webwerwe binne 18 maande te sluit:
# Rugby: Die Springbok Vroue-sewes speel hierdie naweek teen Hongkong China en Tsjeggië in hul groepswedstryde van die Wêreld-uitdaagreeks in Kaapstad. Dit volg nadat hulle verlede seisoen hul plek in die Wêreldreeks aan China afgestaan het. ‘n Spanlid, Shiniqwa Lamprecht, sê om uit te val was ‘n skok, maar die reis om terug te keer na hul posisie begin Saterdag in Athlone. Sy het beloof die tuisskare kan verwag dat die span met ‘n werklike dringendheid sal speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-904-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-886-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: Die benoemde kunstenaars Cynthia Erivo en Ariana Grande, wat in die treffer Wicked speel, gaan Sondag optree tydens die 97ste Oscar-toekennings. Die rolprent het tien benoemings ontvang, insluitend vir die beste rolprent en oorspronklike klankbaan. Queen Latifah is deel van ‘n huldeblyk aan die legendariese Quincy Jones wat in November verlede jaar oorlede is. Doja Cat, Lisa van Blackpink en die Grammy-benoemde kunstenaar Raye gaan ook optree. Die Oscars se uitvoerende vervaardiger, Raj Kapoor, sê die optredes vier die rolprentvervaardigersgemeenskap en van sy legendes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….